5 maande gelede
Boekhouer van Bontas styg uit
baanbreker: Shahied Daniels is sommer baie trots op sy Vlakte roots.foto verskaf  ~ 

VANNIE Bonte­heuwel tot die hoogste trap waarop ’n rekenmeester in die land seker kan staan ...

Dís die storie van Shahied Daniels, wat onlangs aangestel is as die nuwe hoof- uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Professionele Rekenmeesters (Saipa).

Daniels is ’n professio­nele rekenmeester, gesertifiseerde sake-adviseur en ’n chartered director (SA).

Hy het gematrikuleer aan die Senior Sekondêre Skool Arcadia, waar hy natuurlik uitgeblink het in bedryfsekonomiese vakke­ soos rekeningkunde, ekonomie en sakestudies.

Sy kwalifi­kasies is indrukwekkend – ’n diploma­ in interne­ ouditering (CPUT); graad in belasting (Unisa); diploma in bestuur (UCT); graad in onderhandelings (Vlerick-sakeskool in Leuven, België).

Daniels sê hy was maar nog altyd betrokke in die rekeningkunde­bedryf.

“Ek het ’n studente-lid van Saipa geword, tot ek gekwalifiseer het. Ek het gedien in Saipa se streekstrukture in die Wes-Kaap, waar ek ook voorsitter was.

“Ek is daarna verkies om op die nasionale raad te dien, waar ek gevorder het tot die vise-president van Saipa.”

Daniels sê rekenmeesters lewer ’n baie belangrike bydrae tot volhoubare ekonomiese groei van besig­hede, gemeenskappe, die same­lewing en land.

Hy sê egter: “Die bedryf se beeld is ongelukkig bederf deur ’n paar skurke in sy geledere.

“So, ek help graag om jong mense – hetsy op skool, kollege of op universiteit – in rekening­kunde te ontwikkel.”

Hy sê hy’t nooit in sy wildste­ drome gedink dat hy eendag as die uitvoerende hoof van Saipa aangestel sou word nie.

Daniels vertel: “Ek het in ’n verskeidenheid strukture gedien, en is toe gevra om die leisels by Saipa oor te neem en dit te laat groei.”

En wanneer hy nie sy kop met die syfers van die sakewêreld besig hou nie, waarmee hou hy hom anders op?

Daniels sê hy hou daarvan om te oefen, te mediteer, tyd met sy familie deur te bring en saam met vriende te kuier.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters