7 dae gelede
Blyplekke in brand verwoes
SAMARITANE: Gift of the Givers skenk nuwe matrasse vir die slagoffers.  ~ Peter Abrahams

DRIE families het wonderbaarlik die dood vrygespring toe hulle uit ’n brand ontsnap het.

Dié brand het drie groot wendyhuise verwoes.

Die vermoede bestaan dat iemand die brand gestig het.

Marta Juries (66) en haar 16 kinders kan nou nog nie glo hulle het uit die brand ontsnap wat Sondag in die vroeë oggendure in The Conifers in Blue Downs begin het nie.

Juries het aan Son gesê as dit nie vir haar man was wat nog gelê en TV kyk het nie, was hulle dalk nie vandag so gelukkig nie.

Sy vertel: “Ons het geslaap en my man het geskreeu dat dit brand en ons moet wakker word.

“Terwyl hy gelê en TV kyk het, het hy gesien hoe die gordyne in vlamme opgaan.

“Ons het buitentoe gehardloop en kon absoluut niks red nie. Ons kon nie eens ons ID’s of die kinders se geboortepapiere red nie.

“My nuwe stove, twee deep freezers én flat screen het alles uitgebrand.”

SOEK: Marta Juries en Magriet Januarie kyk tussen die puin of daar iets is wat hulle kan red. Foto: Peter Abrahams

Juries sê toe hulle buite kom, was die ander families wat ook op die perseel woon, salig onbewus hulle is deur vlamme omring.

Haar seun Reagan het een van die brandende wendy-huis se muur oopgekap om mense te bevry.

Hy het gister aan Son vertel hy wil nie as ’n hero gesien word nie en dat hy net lewens wou red.

Gekuier

Reagan vertel: “Die mense moes gehelp word, want die vlamme was al baie hoog by hul voordeur.

“My instink het my sommer gesê dat ek die wendy-huis moet oopkap, anders sou die mense nie die brand oorleef het nie.”

Magriet Januarie (73) sê sy het haar dood gesien aankom.

Volgens Januarie van Kalkfontein het sy vir die naweek by haar suster gekuier.

SKARREL: Reagan Juries en sy vriende probeer geld insamel deur die skroot­metaal in te gee. Foto: Peter Abrahams

Sy sê: “Ooh, jirre, my kind, ek was amper vrek, maar hulle sê mos onkruid vergaan nie.

“Toe ek ontdek dit brand, het ek na my suster geroep wat nog gelê en slaap het.

“Ons het probeer om by die voordeur uit te gaan, maar die vlamme was te hoog.

“Ek is dankbaar vir die seun (Reagan) dat hy sommer die plek oopgekap het.”

By Son se besoek aan die familie was die barmhartige Samaritane The Gift of the Givers besig om vir die slagoffers matrasse, komberse en kos uit te deel.

Ricardo Sedres van dié organisasie het aan Son gesê toe hulle die oproep ontvang, het hulle dadelik ge­reageer.

Sedres vertel: “Ons is altyd daar om te help en mense kan altyd op ons leun.”

Al die families wat deurgeloop het, woon tans by ander mense totdat hulle weer ’n tuiste kry, sê hulle.

Die Stad se rampbestuur-beamptes het die slagoffers ook gister besoek.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters