26 dae gelede
Blyplek ‘was ’n varkhok’
jeremiah ruitersFoto verskaf  ~ 

DIT was asof ’n volwasse Jeremiah Ruiters in die getuiebank gestaan en getuig het ...

Wesley Timm, die biologiese pappie van die vermoorde baba Jeremiah het Donderdag getuig hoe daar met sy kinders gemors is.

Sy getuienis van blatante mishandeling van sy eie bloed het hofgangers laat hoendervleis kry.

Timm is die pa van die moordbeskuldigde Abigail Ruiters se drie kinders, Kiana, Zara en die vermoorde Jeremiah (hy was 17 maande oud).

Die twee was 12 jaar in ’n verhouding voordat dit in Maart 2015 tot ’n einde gekom het.

Hulle babaseuntjie is op 12 Junie 2017 by die Factreton-kliniek dood verklaar nadat Ruiters se boy­friend en medebeskuldigde, Ameerudien Peters, daar met hom opgedaag het.

Ruiters en Peters staan ook tereg op die mishandeling van Jeremiah se twee ouer sussies.

Timm het gister getuig oor die dag toe hy ’n oproep van Kiana se skoolhoof gekry het.

Jeremiah se pa: Wesley Timm, die biologiese pa, getuig van die morsige huis.Foto’s: PETER ABRAHAMS

“Hy het my laat skool toe kom om self te kom kyk in watter onhigiëniese toestand sy was. Sy het ’n vuil hemp met net drie knope aangehad en ’n broek wat te groot is. Haar hare was nie gekam nie en sy het stukkende wit tekkies aangehad,” getuig hy.

Timm het getuig dat sy kind vir hom laat weet het sy het nie kos of ’n skoolsak nie.

“Die hoof het vir my gesê hy is bekommerd oor haar toestand en het my gevra of hy ’n maatskaplike werker kan inroep. Ek het vir hom toestemming gegee om voort te gaan,” getuig hy.

Timm getuig oor die toestand waarin hy sy kinders aangetref het as dit sy naweekbeurt met hulle was.

By een so ’n geleentheid, op 21 Desember 2016, was die meisies se klere smerig vuil.

“Ek het by die wendy-huis ingegaan en gesien die kamerlig was af. Abigail was nie daar nie. Ek het vir Kiana gevra hoekom die kamerlig af is en sy het gesê Ameerudien slaap,” getuig hy.

Timm het die lig aangesit, waarna Peters die lig eenvoudig afgesit het.

“Ek het die lig weer aangesit en kon sien hoe vuil die kamer is. Daar was kospotte op die vloer en ál die klere het rondgelê,” getuig Timm.

beskuldigDe: Abigail Ruiters het gister diep in die oë van die biologiese pa van haar kinders gekyk terwyl hy getuig het.

Hy het Kiana gevra hoekom die huis so vuil is.

“Sy het vir my gesê sy het nog nie die huis skoongemaak nie. Ek het gevra hoekom moet sy skoonmaak? Sy het gesê Ameer het gesê sy moet skoonmaak,” getuig hy.

In Februarie 2017 en einde Maart 2017 was dit nét so morsig daar.

Timm getuig sy ouers het hom ingelig oor Jeremiah se dood.

“Ek was by die werk toe my ma bel.”

Hy het Jeremiah gaan uitken en is later saam met ’n polisievrou weg om sy dogters te gaan oplaai.

“Toe ons by die huis kom, was die kinders by Abigail se niggie. Ek en die polisievrou het in die huis gegaan en daar het ons lappe vol bloed gesien lê op die kombuisvloer, asook op die bank,” getuig Timm.

Hy wou klere kry, maar die cop het gesê hy moet aan niks vat nie.

“Ek moes die kinders so vuil soos hulle was polisiestasie toe neem.”

Die kinders is tans in sy sorg.

Die saak gaan volgende­ week voort.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters