Verlede maand
#KYK Bloutrein eis vier drinkers
Peter Fransman  ~ Verskaf

VIER vriende van Bell­ville-Suid wat altyd saamgedrink het, is kort ná mekaar dood toe hulle vermoedelik hul dranklus met brandspiritus probeer blus het.

Nog drie mense in hul groep is in die Tygerberg-hospitaal opgeneem. Een van hulle, Felicia Daniels (49), is in dié hospitaal se eenheid vir geestestoestande.

“Haar hande is aan die hospitaalbed vasgemaak. Sy weet nie eens my pa, Peter Fransman, is dood nie,” vertel Daniels en Fransman se oudste kind, Natalie Daniels.

Natalie sê haar ouers en hul vyf vriende het in die eerste harde lockdown met die gevaarlike gewoonte begin om methylated spirits te drink.

“’n Bottel kos R21 by die Somaliese winkel om die draai. Hulle het dit altyd met water gemix.

Ek het hulle gewaarsku dat dit nie goed is vir hulle nie, want dit is ’n chemical. Maar hulle het nie na my geluister nie.”

Sy sê hoe langer die drankverbod aangehou het, hoe langer het die groep hul dors met die giftige spirits geles.

“Daar was selfs tye dat hulle sanitiser met water gemix en gedrink het. Ek het gedink hulle sal ná die lockdown na hul kannetjie wyn terugkeer, maar hulle het nie.”

Siek

Sy sê haar ma was die eerste wat simptome van vergiftiging getoon het.

“Sy was die hele naweek siek, maar is eers die Maandag weg hospitaal toe.”

Natalie sê haar ma was baie deurmekaar. “Die goed (spirits) het haar brein en een long erg aangetas. Terwyl ons nog oor my ma worry, het ons die nuus gekry dat my pa ook siek is. Hy het aanmekaar opgegooi. Al wat hy ingekry het, was ’n yogurt. Daai was sy laaste eet.”

Fransman is vroeg Woensdagoggend in die Elsiesrivier-hospitaal dood.

“Ons het skaars die tyding van my pa gekry, toe hoor ons hulle vriend Hyron Samuels (25) is ook dood.”

Hyron se suster Geraldine (41) sê toe haar broer Dinsdag begin opgooi, het hulle eers gedink dis net babelas.

“Maar hy het toe deurmekaar geword en styf getrek. Ons het die ambulans gebel. Die paramedics het hom by die huis dood verklaar.” Hyron het ’n vyf maande oue baba.

Natalie sê ná haar pa en Hyron se dood, het nóg mense siek geword.

“Ons het nie verwag dit gaan met die ander ook gebeur nie. Aanmekaar gaan iemand hospitaal toe, dan kom hulle nie terug nie.”

Intussen is nog twee van die groep vriende, Dina Viljoen en haar seun Clifton Botha, dood. Nog twee ander is Vrydag opgeneem.

Shimoney Regter, woordvoerder vir die provinsiale gesondheidsdepartement, sê die departement kan nie inligting oor die saak bekend maak nie, want die polisie ondersoek dit nog.

Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, sê ’n geregtelike doodsondersoek is geopen om die oorsaak van dood vas te stel.

In Junie verlede jaar is sewe mans van Masiphumelele op dieselfde wyse dood toe hulle ook brandspiritus gedrink het.

Natalie Watlington, ook van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement, het toe gesê die vloeistof word in die meeste gevalle in nywerhede gebruik.

Peter Fransman
Hyron Samuels
Dina Viljoen
Vervoer: Clifton Botha het Donderdagaand afgesterf, ’n dag nadat hy hospitaal toe geneem is.

Gifstof

“Dié spiritualieë kan as vryf­alkohol gebruik word om inkmerke uit te kry wanneer dit tot ongeveer 65-70% verdun word.”

Die maatskappye wat brandspiritus maak, voeg die gifstof metiel en pers kleurstof by juis om te keer dat mense dit probeer drink.

Die spiritus word meestal vir skoonmaak en as ’n brandstof gebruik.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters