13 dae gelede
Bloues ‘keer hele huis om’
MOERIG: Marion is nie beïndruk met die cops nie.  ~ Jonathan Lestrade

DIE antie het die bloues toegesnou: “F*k*f, julle!”

Só vertel ’n verontwaardigde 74-jarige granny oor ’n trop bloues wat by haar huis opgetrek het om dit te deursoek vir drugs en guns.

Vanuit haar gemakstoel vertel die antie oor die gebeure. Sy het nooit gedink dít sal haar in haar sewe dekades op aarde oorkom nie.

Vir Marion Smit, wat sedert 1982 in haar Kraaifontein-huis woon, was dit ’n skok om die polisie op haar deur se drumpel te hê.

Smit vertel hoe die bloues in hul maskers, koeëlvaste baadjies en groot gewere laas Vrydagaand haar deure kom aftrap het. Dit was net voordat sy haar hare sou gaan was het.

“Ek het op my bank gesit en uit die hoek van my oog gesien hoe daar iets buite flits, maar het niks gehoor nie.

“Ná ’n tydjie hoor ek weer stemme en mense wat skreeu ‘skop dit, skop die deur in en breek die slot!’

“Ek het vir myself gesê: Oh my goodness, gaan iemand nou vir my kom beroof?”

Smit sê die gebeure wat voor haar afgespeel het, was soos iets uit ’n movie.

“Hulle het mekaar gestoot soos hulle hier by my voordeur ingekom het met hul bleddie guns aan hul heupe en in hul hande.”

Smit sê hulle het haar gevra waar haar seun is en gesê hulle soek hom nadat hulle ’n tip-off gekry het dat daar dwelms en guns in die huis is.

“Dit was ’n groot skok vir my. Vir die hele halfuur wat hulle in my huis was, het ek op hulle gevloek. Nooit is ek die kans gegee om te praat nie.

“Hulle het heeltyd op my geskree en gevra waar is die drugs en guns.

“Ek het toe gesê hulle moet uit my huis ef, want hier is nie drugs nie.”

Plant

Smit sê sy kon hoor hoe hulle die kaste in die kamers oopmaak en in die dak gaan en rondkrap.

“Dit was die een keer in my lewe dat ek gewens het daar is ’n slang in my dak,” sê Smit.

Sy sê terwyl hulle so rondgekrap het, het sy aan hulle gesê sy hoop nie een van hulle dink om dwelms in haar huis te plant nie.

“Die een beampte het aan my gesê ek moet dan daar gaan staan en vir hulle dophou, maar ek het gevoel ek gaan ’n hartaanval kry as ek vir hulle moet dophou,” vertel sy verder.

Smit sê een van die beamptes het nog aan haar gesê hulle doen maar net hul werk.

“Ek was só gestres, ál wat ek kon sê was: ‘Ef off uit my huis uit.’ Hulle het toe ná ’n tyd soos rotte met hul sterte tussen hul bene by die huis uitgesneak.

“Dis toe ’n beampte vir my sê: ‘Ons het niks gekry nie.’

“Hy het voor my gestaan en ek wou hom met my knie in sy jy-weet-waar skop, maar ek het nie.”

Volgens Smit was daar sowat 11 bloues in haar huis en nog ’n paar buite.

“Hulle het geen papiere vir my gewys nie. Ek glo hulle was by die verkeerde huis,” meen sy.

Smit voel hulle kon maar net aan haar deur geklop het.

“Hulle kon die klokkie gelui het. Die deur was dan ’n bietjie oop.”

Smit sê sy wil hê die polisie moet haar hekke en deure regmaak.

“Ek kan dit nie so los nie,” sê sy.

Teen druktyd het die polisie nog nie op Son se navraag gereageer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters