11 dae gelede
Bloues jag nou cops se killers
DOODGESKIET: AO Josephs (52) is Sondagaand in Wesbank doodgeskiet.FOTO’S VERSKAF  ~ 

NOG ’n cop is een van vele mense wat Sondag en gister op die Kaapse Vlakte vermoor is.

AO Josephs (52) van die Mfuleni-polisiestasie is Sondagaand in Wesbank in Delft doodgeskiet.

Drie cops het ’n tip-off gekry oor ’n jong met ’n gun by ’n tavern in Diepwaterstraat.

Die cops het na die perseel gegaan en toe hulle daar kom, het die verdagte op hulle losgebrand.

Josephs is in die kop geskiet en is op pad na die hospitaal dood.

Een van sy kollegas (29) is in die nek geskiet.

Hy is in die hospitaal.

Die derde cop is nie gewond nie.

Volgens brig. Vishnu Naidoo, ’n polisiewoordvoerder, het die voorval Sondag omstreeks 22:00 gebeur nadat die cops die verdagte buite ’n sjebeen gekonfronteer het.

Naidoo sê: “Die polisie­beampte is in die kop geskiet en het ’n uur later in die hospitaal aan sy wonde beswyk.

“Sy kollega is in die nek geskiet en is in ’n kritieke toestand in die hospitaal.”

Naidoo het bevestig ’n verdagte is gister langs die R300-snelweg naby Wesbank ge­arresteer.

Konst. L. Finger (28) is Sondagoggend ook in Delft in ’n beweerde rooftog doodgesteek. Hy was van diens af.

Die nasionale polisiekommissaris, genl. Khehla John Sitole, het ’n aksieplan van 72 uur aangekondig om die moordenaars vas te trek.

Hy het die inwoners gevra om inligting oor die killers by die polisie aan te meld.

  • In nog voorval is die lyk van ’n onbekende vrou Sondag in Eersterivier gekry.
  • Vier mans is gister in afsonderlike skietvoorvalle in Parkwood en Mitchells Plain doodgeskiet.

In Parkwood is ’n vermeende bendelid gisteroggend vroeg vermoor.

’n Seun van 14 en ’n 20-jarige man is gisteroggend in Woodlands, Mitchells Plain, vol lood gepomp.

In nog ’n voorval is ’n 34-jarige man Sondagaand ook daar doodgeskiet.

  • Die lyk van ’n onbekende vrou is in die bosse by Greenfield gekry.

Sy was glo in swart sakke toegedraai.

Niemand is nog vir dié moorde gearresteer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters