Verlede jaar
Bloedige naweek vir bendes
MOORDTONEEL: Twee mans is Donderdagaand in Proteastraat, Kleinvlei, doodgeskiet en nog twee is gewond.FOTO VERSKAF  ~ 

DIE bloed het weer dié naweek gevloei in die bendegeweld tussen die Mongrels en The Firm.

Vier mans is sedert Donderdagaand in drie afsonder­like skietvoorvalle in Kleinvlei dood en nog twee is ernstig gewond.

Heinrich Hickley (31) en Dowayne Vicks is Donderdagaand noodlottig gewond en is op die toneel dood.

Nog twee mans, Wayde Vicks en Percy Peter­sen, is ernstig gewond.

Die vier mans is na verneem word almal lid van The Firm (28’s-bende).

Hickley is verskeie kere in die rug en bors gewond en is op die toneel dood.

Petersen is ook verskeie kere getref terwyl Vicks in die rug geskiet is.

Albei is in ’n ernstige toestand in die hospitaal.

Vyf mans, almal lid van die Mongrels-bende, het glo tot by ’n huis in Proteastraat gegaan en op die mans losgebrand.

Hulle het daarna op die vlug geslaan. Die cops het ongeveer 20 koeëldoppies van 9 mm-pistole en R5-gewere op die toneel opgetel.

Een verdagte is gearresteer en ’n 9 mm-pistool en ’n R5-geweer is gekonfiskeer.

Vrydagoggend is leerders huis toe gestuur nadat nog ’n man in ’n skietvoorval naby die Laerskool Melton Rose afgemaai is.

Volgens ’n buurtwaglid wat verkies om anoniem te bly, is die man by die skool geskiet. Hy het toe gehardloop tot by die winkel, waar hy inmekaargesak het.

Saterdagaand het die gangsters glo ook op ’n vermeende tikhuis losgebrand en ’n man twee keer in die bene gewond.

In Blesbokstraat is nog ’n man Sondagoggend koelbloedig doodgeskiet.

Volgens ’n wyksraadslid, Sharlaine Oerson, sal daar meer klopjagte in die gebied uitgevoer word en ook meer polisielede ontplooi word.

Sy het haar kommer uitgespreek oor die bendegeweld nadat drie ander mense ’n week gelede doodgeskiet is.

Nog ’n man is Vrydag­oggend in Bonteheuwel koelbloedig afgemaai.

Die 34-jarige man is omstreeks 09:30 in Yellowwoodstraat doodgeskiet. ’n Seun (14) seun is ook in die proses gewond.

Sake van moord en poging tot moord is geopen.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters