29 dae gelede
Bloed van kids vloei op Eid-dag
DOOD: Keagon da Silva (17), ’n matriekleerder, is Dinsdagaand in Hanover Park doodgeskiet.Foto: FACEBOOK  ~ 

GANGSTERS het Eid vieslik ontheilig toe ’n matriekoutjie gister in Hanover Park doodgeskiet is.

Twee mans het Keagon da Silva (17), ’n leerder van die Mountview Hoërskool, gistermiddag oorkant Solent Court in Athwoodstraat doodgeskiet.

Keagon is drie keer in die rug geskiet.

Sy 15-jarige vriend Riaad Hendricks is in die bene en skouer gewond.

Die twee skoolseuns is na die Hanover Park-daghospitaal geneem, waar Keagon later dood is.

Die mans het glo uit ’n wit Volkswagen Polo Vivo geklim en op die twee seuns losgebrand.

Hulle het daarna in die kar gespring en weggejaag.

Volgens Kashiefa Mohammed, ’n gemeenskapsleier in Hanover Park, het die gangsters g’n respek vir Labarang nie.

“Dis hartseer dat twee skoolkinders geskiet is,” sê ’n ontstelde Mohammed.

“Dis ’n groot dag vir ons Moslems en die gangsters onheilig dit met hulle gebrek aan respek.

“Kan die gangsters nie vir een dag rus nie? Hulle het geen Godsvrees nie.

“Ek is so ontsteld dat ek nie eens my Eid lunch kan eet nie.”

Keagon is die derde persoon wat dié week in Hanover Park doodgeskiet is.

  • In Bonteheuwel is, Shane­ Moses (31) Dinsdagaand in ’n skietery gewond.

Die voorval het omstreeks 19:15 in Ivorystraat gebeur en hy is in die rug gewond.

Paramedici het hom op die toneel gestabiliseer en daarna hospitaal toe geneem.

Moses het met ’n vriend geloop toe ’n ou op ’n fiets verby hom gery en op hom losgebrand het.

Volgens Angus Mckenzie, wyksraadslid in Bonteheuwel, word meer as 60% van hulle begroting gebruik om bende-aktiwiteite en dwelms te bestry.

“As gevolg van die Triangle-projek se tip-off line teen dwelms en gangsters is 10 drug dens die afgelope twee jaar in Bonteheuwel toegemaak.”

Niemand is nog vir albei skietvoorvalle gearresteer nie. Sake van moord en ’n poging-tot-moord-saak is geopen. Enige een met inligting kan die tolvrye misdaadnommer 08600 10111 skakel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters