17 dae gelede
Bloed bly vloei
bebloed: Paramedics neem een van die mans wat by die Lentegeur-treinstasie gewond is na die ambulans.Foto’s: LEON KNIPE  ~ 

DIE bendeskietery in Mitchells Plain gaan nog onverpoos voort asof die nasionale lockdown net ’n storie is.

In die jongste geval is twee mense Saterdag doodgeskiet. Nog twee is in ’n afsonderlike voorval gewond.

In die een voorval is ’n 24- en 31-jarige man in Woodlands koelbloedig afgemaai.

Dié voorval het omstreeks 12:30 gebeur. Dit kan na verneem word verband hou met verlede week se moord wat ook in Woodlands plaasgevind het.

’n Man en sy girlfriend is laas Saterdag in Woodlands vol lood gepomp.

Die man se girlfriend het die skietvoorval oorleef.

Dit is na bewering die Ju­nior Cisko Yakkies en die Fancy Boys wat so op mekaar skiet.

In nog ’n skietvoorval, ook Saterdag, is twee mans by die Lentegeur-treinstasie gewond.

Volgens kol. Andrè Traut, ’n polisiewoordvoerder, het die voorval omstreeks 14:15 in Melkbosstraat plaasgevind.

Die mans van onderskeidelik 21 en 22 is ernstig gewond en per ambulans na die hospitaal geneem.

Byron de Villiers van die Lentegeur-polisiëringsforum sê: “Dit lyk weer na oorlog tussen die bendes.

Patrolleer

“Ons is bekommerd en hoop die polisie sal die situasie onder beheer bring.

“Dit is moeilik vir ons buurtwaglede, want ons kan nie patrolleer tydens lockdown nie.”

Michael Jacobs, van die Mitchells Plain United Residents Association vertel: “Ons veroordeel die verlies van lewens weens die skietery ten sterkste. Ons gaan gebuk onder die skietery wat elke dag plaasvind.”

In Seawinds naby Lavender Hill is ’n familielid van ’n vermeende leier van die Junky Funky Kids Saterdag koelbloedig doodgeskiet.

Die voorval het in Mossiestraat gebeur en die man is later in die hospitaal dood.

Sy vrou is ook in die skietery gewond en is ook na die hospitaal geneem.

Volgens Traut is niemand nog vir die skietery gearresteer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters