15 dae gelede
Bewaarder bedank ná kooptog
SEGSMAN: Singaba­kho Nxumalo sê die DKD weet van die saak.  ~ Son

EEN van die bewaarders by die Allandale-tronk in die Paarl is in die sop nadat hy na bewering homself gehelp en byna R100 000 se goedere op die tronk se rekening gekoop het.

Die betrokke warden is ’n dikding in unie-geledere en was verantwoordelik vir die aankope vir die tronk-winkel.

Volgens ’n bewaarder wat anoniem wil bly, het die warden die goedere by ’n bekende warehouse gekoop.

Hy vertel: “Die bewaarder weet hoe werk die ding wanneer aan­kope gemaak word.

“Toe gaan koop hy byna R100 000 se goed op Allan­dale se naam.

Bedank

“Die rekening het gekom en hulle het gesê hulle het nog nooit so baie goed gekoop nie. Hulle het na die CCTV footage van die winkel gaan kyk en hom daarop raakgesien.”

Volgens die bewaarder het die betrokke kollega onmiddellik bedank toe die inligting uitkom.

“Ek dink hulle wil die saak stilhou. Korrupsie seëvier hier in Allandale.

“Hul plan is om te wag totdat sy pensioenfonds uitbetaal sodat hy die geld kan terugbetaal,” piemp die bewaarder.

’n Woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste (DKD), Singabakho Nxumalo, het aan Son gesê hulle weet van die saak.

Nxumalo sê: “Die DKD kan bevestig hy is bewus van so ’n voorval waarby die beampte betrokke is.

Besonderhede

“Die saak word ondersoek en ’n strafregtelike saak is by die Paarl-polisiestasie aanhangig gemaak.”

Nxumalo voeg by die DKD mag nie enige verdere be­sonderhede oor die saak bekend maak nie omdat dit sub judice is.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters