2 maande gelede
Beursies dunner oor dom Eskom
NODIGE STAP? Eskom sê hy móét kragtariewe verhoog om die ligte aan te hou.  ~ News24

GEWONE belasting­betalende inwoners moet nou weens Eskom se bedrog­ en korrupsie daaronder ly.

Só sê opposisiepartye en burgerlike organisasies nadat dit aan die lig gekom het Eskom wil kragtariewe nou met byna 20% opstoot­.

Die Nasionale Energie­reguleerder van Suid-Afrika (Nersa) oorweeg nog Eskom se versoek wat na verwagting op 1 Julie moet inskop.

Eskom het Nersa laas jaar na die Noord-Gauteng-hooggeregshof gesleep.

Nersa het geweier om die kragverskaffer­ se stywe verhogings­ goed te keur.

Die hof het bevind Nersa is verkeerd­ en het aanbeveel­ Eskom mag die prys van­ krag vanjaar met sowat 15% verhoog.

Dit is om geld in te samel wat Eskom­ in onvoorsiene uitgawes verloor­ het.

Michal Groenewald, LP van die VF+, sê die implementering­ van die voorgestelde verhogings is onvolhoubaar en ’n onreg teenoor die inwoners.

Groenewald verduidelik: “Met die saamgestelde en inflasie-gekoppelde ver­hogings kom dit op ’n effektiewe verhoging van meer as 20% neer.

Verslae

“Dié verhoging is ’n absolute skande, veral ná die skokkende­ onthullings oor die enorme omvang van korrupsie­ by Eskom wat selfs vorige beramings oortref.

“Die jongste verslae toon aan daar’s korrupsiebevlekte tenders ten bedrae van R178 miljard. Dis reeds deur die spesiale ondersoekeenheid en private ondersoekers geïdentifiseer.

“Dié verslae wys hoe Eskom deur korrupte ANC-politici en -staatskapers tot op die rand van die afgrond­ gedwing is.

“Dit is gelykstaande aan ’n bedrag van sowat R3 100 vir elke landsburger, of sowat­ 700 000 Hop-huise.

“Dit beloop byna die helfte van Eskom se uitstaande skuld van R411 miljard.

“Munisipale­ belasting­betalers moet nou onder andere daarvoor betaal.”

Adv. Rod Solomons, die Wes-Kaapse sameroeper van #SA1stForum, meen “Eishkom” se bedrog- en korrupsiesake moet nou eerder na internasionale ondersoekers verwys word.

Volgens hom het die plaaslike wetstoepassingsagentskappe soos die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die nasionale vervolgingsgesag nie die aptyt om Eskom-bedrieërs te arresteer en te vervolg nie.

Gelyk

Tot dusver is daar nog geen arrestasies of vervolgings uitgevoer wat verband hou met bedrog en korrupsie by Eskom nie.

Solomons sê dis ondanks Sikonathi Mantshantsha, Eskom-woordvoerder, se bewerings dat die kragverskaffer verskeie sake van bedrog en korrupsie na die SAPD en vervolgingsgesag verwys het.

Kragtariewe was in die verlede laer of gelyk aan die inflasiekoers.

Dit het egter vanaf 2007, nadat beurtkrag die eerste keer geïmplementeer­ is, die hoogte­ in geskiet.

  • Die gemiddelde jaarlikse ­inflasiekoers en jaar-op-jaar-koers
  • 2016 8% 6,34%
  • 2017 8,25% 5,27%
  • 2018 5,20% 4,62%
  • 2019 13,90 4,13%
  • 2020 3,90% 2,43%

–mybroadband.co.za

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters