2 maande gelede
Betaal, maar graf bly kaal
OMGEKRAP: George April van Hopefield het al hoop verloor dat sy oorlede vrou ooit haar grafsteen sal kry.Foto: FACEBOOK  ~ 

’N MAN in Hopefield sê hy wag al langer as ’n jaar dat sy vrou se grafsteen opgesit word.

George April (63) vertel hy het in November 2017 al sy spaargeld gebruik om te betaal vir ’n steen wat op sy vrou, Derelene April, se graf moet kom.

Derelene het 10 jaar ge­lede op 52 afgesterf en April het toe besluit om vir haar ’n grafsteen op te sit.

Hy sê hy het Namakwa Grafstene in Vredenburg R15 000 vir die grafsteen betaal.

Volgens ’n omgekrapte April is dit nou al meer as ’n jaar later en al wat hy kry, is leë beloftes en geen grafsteen nie.

April sê: “Die eerste keer kon hulle nie die grafsteen opsit nie oor dit te baie gereën het.

“Dan was dit weer die grafsteen moet met ’n spe­siale stof gemaak word en die grond is te nat daarvoor.

“Toe moes ek weer hoor hulle moet nog twee ander grafstene in Hopefield kom opsit, dan gaan hulle sommer my vrou se grafsteen ook opsit.

“Ek wag nou nog en niemand kom terug na my toe nie.”

SOEK GRAFSTEEN: Namakwa Grafstene in Vredenburg het belowe om binne twee weke iets te doen aan die oprigting van die grafsteen. FOTO VERSKAF

Volgens April wil hy sy geld terughê as hulle nie die grafsteen kan opsit nie.

April se dogter, Zania Fransman, het Namakwa Grafstene ook al verskeie kere ge­nader oor haar ma se grafsteen.

Volgens Fransman is sy drie weke gelede meegedeel een van die vennote het haar arm gebreek en is in die hospitaal.

Fransman sê: “Hulle het elke keer ’n ander verskoning.

“Die werkers het nie op­gedaag nie, of die persoon wat die grafsteen moet opsit, is nie beskikbaar nie.”

Toe Son Namakwa Grafstene uitvra oor die lang gewag vir ’n grafsteen, het Arnie Rossouw, die bestuurder, belowe hulle sal dit binne twee weke opsit.

Rossouw sê: “Die ontvangsdame, wat die administrasiewerk doen, was siek en is nou eers terug. Ek was alleen en kon nie by al die werk uitkom nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters