28 dae gelede
Bestes beloon
SUPER NURSE: Suster Lusanda Nduneni van Parow is die algemene wenner.  ~ Laticia Pienaar

DIE 33-jarige Lusanda Nduneni van Parow wat by die Tygerberg Hospitaal werk, is die beste suster in die Wes-Kaap.

Sy het die Cecilia Makiwane-toekenning gewen wat deur die Wes-Kaapse departement van gesondheid aangebied is.

Altesaam 31 verpleegpersoneel is in hulle onderskeie afdelings benoem.

Baie verpleegsters loop daai ekstra myl en handhaaf hoë professionele standaarde. Dié verpleegsters se harde werk, moed, deernis en uithouvermoë word beloon.

Dr. Nomafrench Mbombo, Wes-Kaapse minister van gesondheid, sê die toekennings is ’n geleentheid om hulde te bring aan die verpleegsters wat so hard werk vir die gemeenskap en die departement.

“Ons moet ’n oomblik stop en dink aan die groep mans en vroue wat in soms baie moeilike omstandig­hede werk en pasiënte versorg.”

Formeel

Deur die toekennings word ook hulde gebring aan die eerste swart geregistreerde professionele verpleegster in Suid-Afrika, Cecilia Makiwane. Sy was ’n aktivis wat geveg het vir vroue se regte.

Die verskillende afdelings waar pryse oorhandig is, is algemene verpleging, verloskunde, spesiale verpleging, gemeenskapsverpleging/primêre gesondheidsorg, verpleegopvoeding (formeel) en verpleegopvoeding (informeel), asook leierskap en bestuur in verpleegkunde.

Ginekologie

Dr. Beth Engelbrecht, hoof van die gesondheidsdepartement, sê hulle kan hulle koppe hoog hou oor die kaliber van verpleging in die provinsie.

“Elke verpleegster se onbaatsugtige toewyding aan die departement en die pasiënte word baie waardeer.”

Nduneni werk al die afgelope sewe jaar as professionele verpleegster in ginekologie en verloskunde.

Suster Yolanda Booysen (44) van Stellenbosch was tweede in haar afdeling vir spesiale verpleegkunde.

Sy werk in die trauma­sentrum van die Tygerberg Hospitaal waar meer as 1 000 pasiënte per maand inkom met koeëlwonde, messteekwonde, beserings weens motorongelukke en ander beserings.

Regina Theunissen (52), ’n stafverpleegster van Mitchells Plain, werk in die afdeling vir interne medisyne en hemofilie.

Sy het nie ’n prys gewen nie, maar is wel benoem. Die personeel en pasiënte sê sy gee om en is toegewyd.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters