Verlede maand
Beskuldigde: dwelmsak by hof gekoop
Moegamat Niezaam Moeniers is luidens die klagstaat in 2015 met dwelms in sy tronksel betrap.  ~ Astrid Februarie

'N SAK met dwelms in is by iemand by die hof gekoop.

Dis die weergawe van Moegamat Niezaam Moeniers oftewel Pang, beskuldigde nommer-4.

Pang is een van 20 vermeende lede van die Terrible Josters wat tereg staan in die Wes-Kaapse hooggeregshof op 145 aanklagte wat insluit moord, poging tot moord en dwelmsmokkel.

Maandag het 'n beampte van korrektiewe dienste van Goodwood-gevangenis getuig hoe daar op 27 Desember 2015 dwelms in Pang se enkeltronksel gevind is.

Die beampte en twee kollegas was besig met random deursoeke van die enkeltronkselle.

Volgens die beampte het hy die kaste deursoek en op 'n check-swart-en-wit-rugsak afgekom.

"Ek het die sak deursoek en binne die sak het ek twee klein pakkies gekry, wat soos tik gelyk het.

"Ek het die persoon wat in die sel aangehou was gevra wie se tik of pakkie dit is. Hy het vir my gesê dit is sy pakkie en die dwelms binne in sy syne," aldus die beampte.

Pang se regsverteenwoordiger het tydens kruisondervraging aan die beampte gesê dat sy kliënt erken dat dit sy enkelsel was en dat die soektog plaasgevind het soos wat die beampte verduidelik het.

Volgens Pang het hy 'n paar dae voor die deursoek in die hof voorgekom vir 'n saak en daar het hy 'n sak by iemand by die hof gekoop.

"Hy het die rugsak terug gevat met hom na sy sel, waar hy dit gebêre het. Toe die beampte die rugsak gekry het was daar geen persoonlike besittings daarin nie," het die regsverteenwoordiger aan die beampte genoem.

Die beampte het geantwoord: "Ek kan nie onthou nie, but ek het onderklere en tabak in die sak gevind."

Volgens Pang se weergawe was dit die eerste keer wat hy die tik sien toe die beampte dit vir hom wys in die tronksel.

Volgens Pang het hy sedert hy die sak gekoop en na sy sel gevat het, nie weer daarin gekyk nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters