7 dae gelede
Bendeskietery eis weer talle slagoffers
'n Meisie is deur 'n bendekoeël in die kop getref.  ~ Foto ter illustrasie

’N JONG meisie veg om haar lewe in die hospitaal nadat sy en haar boyfriend in die bendes se kruisvuur beland het.

Die couple, net bekend as Stacey en Justin, is Maandagaand in Parkwoodlaan in ’n skietery gewond.

Die 16-jarige seun en sy girlfriend is tans in die hospitaal nadat die gangsters hulle raakgeskiet het.

Die tienerseun is net in die arm gewond.

Sy ongelukkige meisie is twee keer in die kop geskiet en is tans in ’n ernstige toestand in die hospitaal.

Die jong verliefdes het op ’n straathoek gesit toe daar op hulle geskiet is.

Hulle is met ’n ambulans na die hospitaal geneem.

“Daar was ’n toename in skietvoorvalle die afgelope week in Parkwood,” het past. Paul Phillips van Parkwood gesê.

“Ons grootste bekommernis is die kinders wat skool toe gaan in die oggende en weer in die middae huis toe kom.

Delft

“Die gangsters skiet van straat tot straat en dit is gewoonlik onskuldige mense wat raakgeskiet word.”

In nóg ’n skietvoorval in Leiden in Delft is ’n 17-jarige seun ook Maandag in ’n bendeskietery doodgeskiet.

Die voorval het omstreeks 18:00 in Rhineweg plaasgevind.

’n Meisie (19) is ook in die skietvoorval in die arm gewond.

Maandagaand was ook “skietaand” in Hanover Park toe ’n 46-jarige man daar doodgeskiet is.

Die voorval het omstreeks 23:15 in Johndown Walk gebeur en die slagoffer is op die toneel dood.

Volgens Kashiefa Mohammed van Hanover Park se gemeenskapspolisiërings­forum het hulle aan die begin van die maand ’n gemeenskapsvergadering gehad om die bendegeweld te bepreek.

Volgens haar is daar met ’n plan van aksie vorendag gekom wat vandag aan die gemeenskap voorgelê gaan word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters