Verlede maand
Bendes skiet 2 jong ouens
MISDAADTONEEL: Geskokte inwoners drom saam op die toneel waar Andrew Koopman en Wian van Rooyen vermoor is.  ~ Peter Abrahams

SCOTTSDENE is weer geruk deur die skietdood van twee jong seuns.

Wian van Rooyen en Andrew Koopman is die jongste slagoffers in die voortslepende bendegeweld in dié gebied.

Die twee se dood kom kort nadat bendes oor die Paasnaweek hande gevat en saam sport gespeel het om die vrede te bewaar.

Verskillende bendes het saam krieket gespeel en die gemeenskap was heel verlig dat hulle ’n baie rustige Paasnaweek kon hê.

Volgens Van Rooyen se oom en ondervoorsitter van die Kraailove Facebook-groep, het hy kort voor sy dood uit sy slaap opgestaan en saam met sy vriende geloop.

Bendelede het Van Rooyen en Koopman glo albei gejaag.

Hulle het in ’n jaart in Watsonia Park skuiling gesoek, maar hulle is daar doodgeskiet.

Neville Sampson vertel: “Ek weet nie presies wat gebeur het nie, maar ek weet hulle is vanaf Busy Corner gejaag. Hulle het tot in Watsonia Park gehardloop en het in iemand se jaart weggekruip. Daar is hulle doodgeskiet.”

Robert Bisset, die voorsitter van Kraaifontein se gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het aan Son gesê hy’s gewalg deur die dood van dié jong mans.

Bisset sê: “Dit is uiters skokkend! Bheki Cele vat sy tyd om die spesiale taakmag na die gemeenskap te bring wat hy belowe het.

“Ek en die pastore het bymekaargekom en besluit om die strate in te vaar oor ons genoeg gehad het.”

Bisset het gesê hulle sou gisteraand in ’n vergadering bespreek wat hulle aan die saak gaan doen.

“Ons beplan reeds om op 17 April tot by die Kraaifontein-polisiestasie te march waar ons ons demands in ’n memorandum gaan oorhandig.”

Gearresteer

Sers. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder, het bevestig die Kraaifontein-polisie ondersoek ’n dubbele moordsaak ná ’n skietvoorval gisteroggend 10:25 in Rustic Close, Watsonia Park.

Rwexana sê: “Onbekende verdagtes het twee mans (19) en (27) geskiet en noodlottig gewond.

“Die skietery is bendeverwant en twee verdagtes (18) en (21) is in verband met die voorval gearresteer.

“Nog ’n saak van poging tot moord sal bygevoeg word.”

  • In ’n ander voorval is Bianca Alexander (26) Vrydag in Clarkes Estate in Elsiesrivier doodgeskiet.

Alexander was in 2019 in ’n skietvoorval betrokke waarin haar seun (12) en haar vriendin se twee kinders doodgeskiet is.

Alexander en haar vriendin het albei die aanval oorleef.

Drie verdagtes is in verband met die voorval gearresteer en loop tans hof.

Dit blyk Alexander is “stilgemaak” sodat sy nie in ’n saak kan getuig nie.

Volgens ’n bron was Alexander se naam op ’n hit list en die name van nóg vroue wat moet val, is ook op dié moordlys.

Koop

Kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig die Elsiesrivier-polisie ondersoek ’n saak van moord wat Vrydag omstreeks 18:40 naby ’n huiswinkel in Kernerweg gepleeg is.

Hy verduidelik: “Die slagoffer was besig om iets te koop toe twee onbekende mans haar nader en op haar begin skiet.

“Die verdagtes het van die toneel gevlug en moet nog gearresteer word.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters