Verlede maand
Bendes show af met guns
min gespin: ’n Gangster vuur twee weke gelede skote in die lug op die begrafnisdiens van ’n bendelid in Khayelitsha. Die polisie het sedertien twee mans vasgetrek. FOTO verskaf  ~ 
vrees: Dié cops ontken hulle is te bang om te reageer wanneer skote klap.
baie bekommerd: Thando Mpengezi, ’n raadslid, verduidelik misdaad in wyk 91 in Khayelitsha is deesdae buite beheer.Foto’s:jonathan lestrade
min gespin: ’n Gangster vuur twee weke gelede skote in die lug op die begrafnisdiens van ’n bendelid in Khayelitsha. Die polisie het sedertien twee mans vasgetrek. FOTO verskaf

TRIGGER-HAPPY gangsters skiet met hul guns in die lug.

Dié nuwe af-showery gebeur in ’n gemeenskap wat so dig bevolk is datmens teen jou eie skaduwee kan bots as jy te vinnig omdraai.

Dié mode het nou posgevat in ’n gemeenskap in Khayelitsha waar duisende kindertjies gereeld in die strate speel.

Nog erger is dat die skieters dit sommer ’n hanetree van die polisiekantoor af doen. In dié koeëlreën kry die bloues dan nie kans om uit die polisiekantoor te gaan om in te gryp nie.

Wat vet in die vuur is, is dat inwoners video’s van die skieters maak en hulle daardeur aanhits om af te show.

So ’n voorval het op 11 Augustus in P Section gebeur op die begrafnisdiens van ’n vermeende gangster.

’n Metro cop het dié man, net bekend as Tino, op 29 Julie in Delft doodgeskiet nadat hy glo op die polisieman geskiet het.

Twee video-opnames van die skietery het intussen soos ’n veldbrand op sosiale media versprei.

Op die video’s kan gesien word hoe gangsters tientalle skote helder oordag in die lug afvuur.

Inwoners lag en maak jokes­ en besef nie dwaal­koeëls kan hul kinders tref nie.

Thando Mpengezi, ’n raadslid, sê bendelede val al ’n paar weke lank hier in wyk 91 soos vlieë.

Mpengezi sê 80% van sy gebied bestaan uit plakkerskampe, wat ’n teelaarde vir misdaad is.

“Die skollies hol so koes-koes tussen die wonings ná ’n misdaad en dan kry die polisie hulle nooit nie.”

Mpengezi erken: “As misdadigers so hul gunne in die lug skiet, is die polisie te bang om hulle te konfronteer.

“Dis omdat ’n groep van so 30 tot 40 van hulle bymekaar is en hulle almal gewapen is. Dit gebeur soms net so 300 meter weg van die polisiestasie.”

Brig. Novela Potelwa, die Wes-Kaapse polisiekommissaris se woordvoerder, sê egter die cops is glad nie bang vir gangsters nie.

Sy sê voordat die polisie optree, moet almal se veiligheid in ag geneem word. Potelwa voeg by die polisie het twee verdagtes in verband met die skietvoorval op 11 Augustu aangekeer.

“Ondersoeke het onmiddellik begin en ’n man (21) is die volgende dag met ’n AK47 en 25 patrone gearresteer.”

Intussen is nog 22-jarige in Khayelitsha gearresteer vir die afvuur van ’n vuurwapen in ’n munisipale gebied.

Mpengezi sê: “Misdaad is ’n groot uitdaging. Gangsters haal mekaar soos vlieë uit.

“Hier is amper elke naweek ’n gangster-begrafnis en dan word daar so in die lug opgeskiet. Inwoners dink al dis normaal.

Gebid

“Soos jy op die video sien, stap mense verby asof niks gebeur nie en kinders kyk nuuskierig toe.”

Aan die begin van die maand is ’n gebedsdiens op een van die hot spots gehou.

“Terwyl ons gebid het, het ’n kaping 800 m verder gebeur.

“Maar ’n mens kon sien daai was regtig die Here se aand. Die een gangster het ’n skoot afgevuur. Die kaper het bedoel om die kar-eienaar te skiet, maar toe skiet hy sy eie partner morsdood.

“Twee weke gelede het gangsters een van hul eie vermoor en sy lyk in ’n drein gegooi.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters