12 dae gelede
Bendeoorlog eis vele in ’n week
ONDERSOEK: Opod bekyk nou die omstandighede rondom Peyton Langeveldt se dood.  ~ Foto Verskaf

’N BLOEDIGE bende-oorlog oor drug turf tussen die Mobsters, RBK’s, Skombizo’s en Ferodo-gang het daartoe gelei dat talle mense die afgelope week in Kraaifontein afgemaai is.

In die jongste voorval is Peyton Langeveldt, ’n vermeende lid van die Skombizo’s Dinsdagmiddag in Watsonia Park doodgeskiet.

Langeveldt is dood nadat hy glo op cops losgebrand het. Daar word gegis dat hy op pad was om ’n rival­ gangster te gaan skiet toe hy hom in die cops vasloop.

Volgens ’n polisiebron het hulle hul hande vol met bendelede van so jonk as 12 jaar oud.

Parkie

In Watsonia Park, waar Jayden Daliye (17) ’n vermeende lid van die Skombizo’s Maandagaand doodgeskiet is, rule die Skombizo’s na bewering.

Die bron vertel: “Dit is die jongste laities met wie ek al te doen gehad het. Die hele skietery gaan oor drug turf. Die Skombizo’s wil die hele Kraaifontein hulle s’n maak.”

Die bron sê hulle vermoed ’n onbekende man wie se lyk Saterdagmiddag in ’n parkie in Watsonia Park, gekry is, is ’n lid van die 28’s-bende.

Hy is halfnaak met ’n betonblok op sy kop aangetref.

“Hy was in Skombizo territory­, so ons vermoed dat ’n Skombizo hom doodgemaak het,” verduidelik die bron.

’n Woordvoerder van die polisie, kapt. FC van Wyk, het bevestig die Kraaifontein- speurtak ondersoek die skietvoorval waarin Daliye dood is.

Van Wyk sê: “Die slagoffer is Maandagaand omstreeks 21:20 geskiet terwyl hy in Sydowstraat in Watsonia Park geloop het.

“Die slagoffer is op pad hospitaal toe oorlede.

“ ’n Moordsaak word ondersoek en niemand is nog gearresteer nie.”

Van Wyk vra dat enige iemand met inligting in verband met die voorval die speurders by die Kraaifontein-polisie wat met ernstige en geweldsmisdaad-sake werk by 079 894 0154 bel.

Hy sê alle inligting sal as vertroulik hanteer word.

Die polisie het ook intussen drie verdagtes gearresteer vir die moord op Duran Visagie (11).

Onder hulle is die 19-jarige girlfriend van een van die verdagtes by wie se wendyhuis die moordwapen gevind is.

Duran, die seun van ’n polisieman, is laas Dinsdagmiddag doodgeskiet toe lede van die Mobsters en RBK’s op mekaar losbrand.

Paul Arendse (18), ’n vermeende lid van die Mobsters en matrikulant aan die Hoërskool Eben Dönges, is ook oor die naweek doodgesteek.

Aangemeld

Van Wyk sê die Kraaifontein-speurtak ondersoek ook die saak van ’n onbekende man wie se liggaam Saterdagmiddag omstreeks 15:15 in Buitensingel, Watsonia Park, gekry is.

Hy sê die omstandighede rondom die voorval word ondersoek­.

Ndileka Cola, woordvoerder vir die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat sê Langeveldt se skietvoorval is by hulle aangemeld.

Cola sê: “Die direktoraat sal dié voorval volledig ondersoek. Die uitslag van die ondersoek sal bepaal watter aksie sal volg.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters