Verlede maand
Bendelede kry eeue agter tralies
'n Lid van die Varado-bende is twee lewenslange vonnisse opgelê vir die moord op twee mense in Westbury, Johannesburg, in 2017  ~ Foto Ter Illustrasie

N LID van die Varado-bende is twee lewenslange vonnisse opgelê vir die moord op twee mense in Westbury, Johannesburg, in 2017.

Kemal Zita (25) het Donderdag in die Suid-Gautengse hooggeregshof verskyn waar hy ’n addisionele 71 jaar straf gekry het, nadat hy skuldig bevind is aan twee klagte van moord, vyf klagte van poging tot moord, die besit van onwettige vuurwapens en die besit van onwettige ammunisie.

Hy is ook skuldig bevind aan die ’n klag wat verband hou met sy bendelidmaatskap.

Zita en sy mede-bendelid Faldeen Sampie Marks het Raymond Jansen en Ricardo Smith in 2017 doodgeskiet.

In twee afsonderlike voorvalle is 5 individue beseer.

Kapt. Mavela Masondo, ’n polisiewoordvoerder, verduidelik: “Die polisie het albei verdagtes gearresteer. Die provinsiale ondersoekeenheid vir handelsmisdaad het die ondersoek uitgevoer en die nodige bewyse ingesamel wat tot die suksesvolle skuldigbevinding en vonnisoplegging van die verdagtes gelei het.”

Marks dien tans 274 jaar tronkstraf uit vir etlike bendeverwante moorde.

Lt.genl. Elias Mawela, Gautengse polisiekommissaris, het die beamptes in die saak geprys: “Dit is die uitslag van ’n hardwerkende en toegewyde ondersoekbeampte.

“Die bestryding van bendeverwante misdaad bly ’n prioriteit van die polisie in Gauteng, en so ’n vonnis sal ’n kragtige boodskap uitstuur aan diegene wat hulle nog ophou met bendebedrywighede wat gepaardgaan met ernstige misdrywe en geweldsmisdaad.” – News24

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters