Verlede maand
‘Bendehokkies’ afgebrand
LIGTE LAAIE: Die rook trek waar ’n hokkie in die Malawi-kamp afbrand.  ~ Foto Verskaf

DIE Ravensmead-polisiestasie moes nou al meer as een keer weens Covid-19 sluit – en dít terwyl bendegeweld weer in die area opgevlam het.

Die stasie moes vir eers sy deure toemaak nadat een van die lede daar positief getoets is vir Covid-19.

Volgens Dawie van Wyk, voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum, is die polisiestasie tans toe, maar hulle gebruik die raadsaal om die publiek se klagte te hanteer.

Inwoners is gatvol vir die bendeskietery in die area en kla die polisiestasie lewer swak diens.

Dinsdag laatmiddag is iemand in Asterlaan, Uitsig, doodgeskiet.

Na bewering is ’n lid of lede van die Ama Don’t Care-bende, van die Malawi-kamp, daarvoor verantwoordelik.

Volgens Van Wyk kom skiet Ama Don’t Care-gangsters in Uitsig en dan hardloop hulle oor na die Malawi-kamp toe.

Van Wyk sê: “Die inwoners is moeg van die gangsters en daarom het hulle Woensdagaand van die gangsters se hokke afgebrand.

“Hulle is die ouens wat die moorde pleeg en dan in Malawi-kamp gaan wegkruip.

“Om die hokkies af te brand is nie ’n goeie idee nie, maar dit help om die gangsters daar uit te kry.”

GESLUIT: Die Ravensmead-polisiestasie moes weens Covid-19 vir eers sy deure toemaak. Foto: Verskaf

Nog ’n omgekrapte inwoner sê: “Hulle is van die 28’s-bende en het die gemeenskap van Malawi binnegedring.

“Hulle tax die mense, veral die buitelanders met winkeltjies.

“Van die winkeleienaars moet tot R500 protection money betaal. Die mense wat in die oggende werk toe gaan en taxi neem, word beroof. Die inwoners is gatvol en het van die hokkies geïdentifiseer waar die Ama Don’t Care-lede uithang.

“Die omgekrapte inwoners het twee van die hokkies afgebrand.”

Gearresteer

Na verneem word is daar vyf hokkies in die Malawi-kamp waar die Ama Don’t Care-bende uithang.

Niemand is nog vir die moord gearresteer nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters