Verlede maand
Bendegeweld eis weer drie
MOORDTONEEL: ’n Man (29) van New Woodlands, Mitchells Plain, het Sondag in ’n muur vasgery nadat hy in ’n drive-by shooting noodlottig gewond is.  ~ Leon Knipe

DIE voortslepende bendegeweld op die Kaapse Vlakte het weer verskeie lewens geëis – en een victim is sommer vanuit ’n ander kar agter sy eie stuurwiel geskiet.

  • In Delft is ’n 23-jarige man Sondagaand koelbloedig doodgeskiet.

Dié skietvoorval het 21:45 naby die Apostoliese Kerk in Eindhoven plaasgevind. Die man se lyk het op ’n oop stuk veld gelê.

Dis nog onbekend of die skietvoorval bendeverwant is.

  • In Bonteheuwel is ’n vermeende gangster koelbloedig doodgeskiet.

Dié voorval het Sondag­oggend 07:25 in Swart­ysterhoutstraat gebeur.

Die 18-jarige laitie is verskeie kere geskiet en is op die toneel dood.

Bendetwis

Volgens Angus McKenzie, die Bontas se wyksraadslid, lyk dit vir hom na ’n bendeverwante skietery.

McKenzie sê: “Dit is deel van ’n voortslepende bendetwis tussen die Playboys en die Hard Livings.

“Dit het einde Desember verlede jaar begin toe ’n rival bendelid geskiet is.

“ ’n Paar weke daarna is nog ’n rival-bendelid in die voet geskiet en nou weer dié skietery.”

Die cops is nog besig om die omstandighede rondom die voorval te ondersoek.

’n Moorddossier is geopen en niemand is nog gearresteer nie.

  • Intussen is nog ’n man in ’n drive-by-shooting in New Woodlands afgemaai.

Die 29-jarige man en ’n passasier het omstreeks 07:30 Sondagoggend in Katrina Harrisstraat afgery toe daar op hulle motor geskiet word.

Die bestuurder is getref en kon nog ry tot in Hans Aschenbornweg, waar hy sy bewussyn verloor en in ’n muur vasgery het.

Hy het later op die toneel aan sy wonde beswyk. Sy passasier is ook gewond en hospitaal toe geneem.

Volgens Mihlali Majikela, ’n polisiewoordvoerder is twee verdagtes van onderskeidelik 22 en 25 jaar oud in hegtenis geneem.

Hulle sal binnekort in die Mitchells Plain Landdroshof verskyn op klagte van moord en poging tot moord.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters