Verlede jaar
‘Bende-hoë’ sit
tronkmoord: Twee gevangenes is in ’n sel vermoor.FOTO TER ILLUSTRASIE  ~ 

DONOVAN May, ’n “fighting judge” van die 26’s-tronkbende in Mosselbaai, is tot 25 jaar tronk toe gestuur vir die moord op ’n selmaat.

May het Maandag skuld beken op die moord op Bradley Theyesi (20).

Theyesi en Abongile Mzola is op 29 Maart 2016 dood ná ’n tronkgeveg tussen strydende 28’s- en 26’s-bende­lede.

Luidens hofdokumente is bendelede vroeg in Maart 2016 saam in een sel in Mosselbaai se korrektiewe fasiliteit vir jeugdiges geplaas.

Die inmates het toe die sel in twee verdeel deur middel van ’n grenslyn wat uit beddens bestaan het.

Op 29 Maart het die toestand in die sel kookpunt bereik en die 26’s het ná aandete met wapens in die sel opgedaag en die 28’s aangerand.

May, wat voor sy inhegtenisneming lank soek was vir ’n aanranding, het in sy pleitooreenkoms gesê hy het Theyesi in die nek gesteek.

Hy het hom ook ’n paar keer in die bolyf gesteek.

Theyesi, ’n 28, is in die fight dood.

May het ook erken hy het Thembelani Quaga (20) met ’n selfgemaakte mes gesteek.

May het saam met 10 ander inmates wat ook lede van die 26’s is, verskyn.

Sy medebeskuldigdes is Moses Pikaan, Ricardo van Zyl, Zander Alexander, Winston Waldach, Jason Bothma, Hein Piedt, Jean Pierre Botha, Roland Jantjies, Geswin Jantjies en Henrico Lindt.

Hulle het saam op 10 aanklagte, waaronder moord, poging tot moord en die oortreding van die wet teen georganiseerde misdaad (die Poca-wet), tereggestaan.

Omdat May nie die staat se tyd gemors het met ’n uitgerekte verhoor nie, is hy net skuldig bevind aan die moord op Theyesi, die poging tot moord op Quaga en die Poca-wet.

Die ander aanklagte teen hom is teruggetrek.

Hy is 25 jaar tronkstraf opgelê vir die moord en is vir die aanklag van poging tot moord en die oortreding van die Poca-wet tot 3 jaar elk gevonnis.

Die saak teen die ander 10 duur voort.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters