13 dae gelede
Bekende advokaat uitgehaal
Nuuskierig: Fadwaan “Vet” Murphy was ook op die toneel. FOTO Verskaf  ~ 

’N WELBEKENDE lawyer in Kaapstad wat veral vermeende onderwêreld- en dwelmbase verteenwoordig het, is in ’n hit doodgeskiet.

Adv. Vernon Jantjies (54) is Sondagaand by sy winkel langs die BP garage­ by die Clock Tower in Lentegeur uitgehaal.

Die voorval het omstreeks 21:40 plaasgevind, sê brigadier Novela Potelwa, ’n polisiewoordvoerder.

“Nog twee mense is in die skietvoorval beseer en na ’n nabye hospitaal geneem.”

Jantjies is op die toneel dood. Verskeie omstanders het video’s van die toneel gemaak terwyl Jantjies se onbedekte lyk in sy eie bloed gelê het. In een van die video’s is ’n man besig om deur Jantjies se sakke te krap. Die man was na bewering besig om Jantjies se lyk te beroof.

Altesaam 15 leë koeëldoppies is op die toneel gevind.

Jantjies is die jongste van vier criminal lawyers wat in vier afsonderlike hits vermoor is.

David Mbazwana (38) is in Mei vanjaar by sy winkel in Khayelitsha doodgeskiet.

Verlede jaar in Oktober is adv. Pete Mihalik in sy kar voor sy kinders se skool doodgeskiet.

Noordien Hassan is in 2016 voor sy huis in Lansdowne uitgehaal.

Al vier mans was bekende criminal lawyers in die dwelm- en bendekringe.

Rampokkery

Jantjies is oorspronklik van Gelvandale in Port Elizabeth, maar het aan die Universiteit van Wes-Kaapland regte geswot. Voor hy die roete van ’n criminal lawyer gevat het, was hy ’n landdros by die Mitchells Plain Landdroshof en weer by die Khayelitsha Prioriteitshof.

Hy was ten tyde van die voorval lid van regspan van die vermeende druglord en dikding van die Dixie Boys in Mitchells Plain, Fadwaan “Vet” Murphy.

Vet en sy manskappe, sy eksvrou, Shafieka, sy suster, Glenda Bird, Dominic Davidson, Leon Paulsen en Desmond Donovan Jacobs loop hof vir meer as 200 klagte wat rampokkery, geldwassery en dwelm­handel insluit.

Die saak was gister in die Kaapse hooggeregshof.

  • Familie en vriende van die regsman wou gister geen kommentaar lewer nie.

    Lewer kommentaar op hierdie artikel
    0 reaksies
    Lewer kommentaar
    Kommentaar 0 oorblywende karakters