4 maande gelede
Bejaarde verkool in wendy
Valerie ‘Ouma Val’ Mitchell (77)FOTO Verskaf  ~ 

’N VROU van Manenberg het verkool toe ’n verwoestende brand Maandagaand vier wendys en ’n ander woning verswelg het.

Die 77-jarige Valerie “ouma Val” Mitchell is een van 14 mense wat op die perseel in Irvinestraat in Manenberg gewoon het.

Haar oorlede seun se vrou, Johanna Mitchell (67), is met brandwonde in die hospitaal opgeneem.

Volgens Sandy Bailey, een van ouma Val se kleinkinders wat ook op die perseel woon, was dit ’n ontroosbare dag.

“Die boys het nog TV gekyk toe hulle die vlamme agter in die jaart sien.

“Ouma Val het op haar eie in een van die vier wendys gebly.

“Die boys het my wakker gemaak en ek het die deure en die hek oopgesluit sodat almal kon uitgaan.”

Die bure en ander inwoners was gou op die toneel en het probeer om van die goed te red en om almal uit te kry.

Chris­tian Mitchell, ouma Val se seun, vertel sy ma het ’n gehoor­probleem gehad en kon nie gered word nie.

“As gevolg van ouderdom het sy mos ook al stadig beweeg. Sy kon nie gou genoeg uitkom nie.”

Loretta Fereirra, ’n ander familielid, sê die brand het binne twee uur alles afgebrand en verwoes.

“Die inwoners was rêrig gou hier om te help. Maar hulle kon nie weer ingaan om vir ouma Val te help nie.”

Ouma Val is onherkenbaar verbrand.

Volgens Christian het die polisie hulle ingelig dat hulle tot ses maande kan wag om haar lyk te kry weens DNS-toetse wat haar identiteit moet bewys.

“Ons gaan nie tot dan wag nie. Ons het geld ingesamel en bymekaar gegooi om die toetse privaat te laat doen.”

seun: Christian Mitchell se ma kon nie gered word nie.Foto: Melinda Stuurman
Opruim: Inwoners van Manenberg help skoonmaak na ’n brand in Irvine straat.
Survive: Die steen engel het ’n verwoestende brand oorleef.
Valerie ‘Ouma Val’ Mitchell (77)FOTO Verskaf

Konst. Wesley Twigg, ’n polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en gesê ’n nadoodse ondersoek is geopen.

Theo Layne, brandweerhoof van die Stad Kaapstad, sê die oorsaak van die brand is steeds onbekend.

By Son se besoek was inwoners steeds besig om die plek op te ruim.

Uitgebrande matrasse, ’n stoof en ander materiaal is verwyder.

’n Engelbeeld, soos dié wat ’n mens op kindergrafte kry, het ironies genoeg bewaar gebly.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters