Verlede maand
Bejaarde verdwyn soos mis voor son
Siebie
Anthony "Siebie" Ambrose  ~ Verskaf

"SIEBIE asseblief, kom huis toe! Waar is jy? Ons mis jou en is lief vir jou!"

Die familie van die vermiste Anthony "Siebie" Ambrose sê hulle is al siek geworry oor waar die bejaarde is.

Ambrose (70) van Caledon het op 8 Oktober 2021 soos mis voor die son verdwyn nadat hy by 'n tjommie in die area gekuier het.

Sy suster Wendy Ambrose (53) verduidelik aan Son dat haar boetie nie iemand is wat net weg sal loop nie.

"Hy vat sy stappie, maar hy kom altyd huistoe. Hy sal nooit weg bly nie, want hy woon saam sy vrou en kinders."

Wendy vertel dat Ambrose op die 8ste gesien was toe hy eers 'n entjie gaan koop he en toe weer vuurhoutjies by 'n tuck shop in die area.

Daarna het hy 'n pilletjie by 'n vriend gekry en op die palletjies gesit en rook.

"Dis die laaste wat hy gesien was. Tot hierdie uur weet ons niks meer. Ons het al by al die morgues gaan soek asook die hospitale en die polisiestasies, maar hy is nie daar nie."

Die familie is bekommerd.

"Hy kan nie ver loop nie omdat hy 'n beenprobleem het, selfs 'n baby kan langer as hy loop.

"So daar is baie wat deur ons minds gaan soos wat as iemand hom gehijack het? Of hom vir sy entjies beroof en hom vermoor het? Die wêreld is wreed.

"En toe dit so koud was kon ek nie slaap nie, want was hy warm en het hy iets om te eet?"

Die familie smeek as enige iemand Ambrose gesien het, om hom huistoe te bring.

"As iemand hom kry, asseblief bring hom net huistoe, ons makeer hom in die huis, ons mis hom."

AO Joseph Swartbooi, 'n polisiewoordvoerder bevestig dat daar 'n saak van 'n vermiste persoon geopen is.

"Geïntegreerde magte, insluitend lede van die George K9 -eenheid, het 'n groot gebied te voet afgelê op soek na die vermiste.

"Hy is laas gesien met 'n maroon T-hemp, groen broek en baadjie. Volgens berigte geniet hy dit om te loop.

"Enigiemand met inligting word versoek om die ondersoekbeampte, Barlow, by 079 893 9901 te skakel."

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters