5 maande gelede
‘Bedryf nog vir jare ’n leë dop’
BAIE HAPPY: Herchel Liedeman het weer ’n vroliker lied in die hart noudat hy weer dop kan koop.  ~ Foto Verskaf

TERWYL drankkopers opstock op hul gunsteling-dop en dit weer geniet, sê drankverkopers dit gaan nog jare boomskraap gaan.

Volgens van die klein besighede in die drankbedryf, soos shebeens en koop-en-loop-drankwinkels, sal dit hulle omtrent drie tot vier jaar neem om ná al die terugslae finansieel te herstel.

Jonathan Basson, adjunk-sekretaris van die Mitchells Plain Liquor Traders’ Association, sê hoewel baie van die drankverkopers hêppie is oor die onlangse opheffing van die verbod op alkoholverkope, is hulle nie oortuig dat hulle weer aan die veilige kant van besigheid staan nie.

“Die verbod op alkoholverkope het so gou gekom en dít sonder om ons in te lig. Dit gooi beplanning omver.

“Dan moet ons ways kry om stock te beskerm en dit verg geld.

“Ons lisensies vir alkoholverkope moet betaal word. Dit maak nie saak of jy trade of nie.

“Hou ook in gedagte dat ons jaarliks ’n nuwe lisensie moet uitneem.

“Om nie eens te praat oor die toelaatbare ure en dae wat ons mag trade nie. Die dae en ure val dan tussen ons klante se werksure. So, vertel my: Hoe word ons in ag geneem?”

Basson sê die hartseerste van alles is dat hul werkers daaronder ly.

“Die main ding is dat ons werkers nou met skuld sit en nie eens geld het om kos op die tafel te sit nie.”

Hy meen die regering vat hulle vir ’n pop.

“Ek verstaan nie waar die verskil tussen die verkoop van drank in restaurante en die verkoop by koop-en-loop-winkels lê nie. Die drank bly dieselfde; net die mense change.”

Blameer

Basson reken ook die regering trap die druiwe mis oor wie of wat verantwoordelik is vir ongevalle.

“Hoe kan ons as koop-en-loop-winkels blameer word as mense nou uit ’n restaurant moet loop en in hul kar moet klim om huis toe te gaan?

“Boonop bly die besluit in die drinker se hande.”

Basson glo ook dat die koop-en-loop-besighede genoeg tyd aan die regering gegee het om vir hospitale en ekstras voor te berei.

“Met die eerste lockdown en verbod is verduidelik dat hulle alles moet toemaak sodat hulle kan voorberei.

“Ons het dit met ope arms verwelkom.

“Met die tweede verbod was dit omdat alkohol ongevalle veroorsaak.

“Vir die derde verbod was dit omdat die hospitale te veel alkoholverwante gevalle gehad het. Nou sê vir my: Wat sê dit oor die resultate van die eerste lockdown?”

Basson sê drankverkopers sal nooit verstaan wat regtig in die besluitnemers se koppe aangaan nie.

“Ons is dan een van die land se grootste bronne van inkomste. Hoe kan jy dit doodmaak?”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters