2 jaar gelede
Bebloede lyk in jaart gekry

’N BLOEDSPOOR van sowat 50 m en ’n lyk wat in mense se jaart op sy rug lê.

Maar wat Donderdag in die vroeë oggendure in Leiden, Delft, gebeur het, is ’n raaisel.

Die lyk van ’n man is in ’n erf in Boetsapstraat in Leiden gekry.

Inwoners sê hulle het wel omstreeks 01:00 iemand hoor skree en honde hoor blaf, maar niemand wou kyk wat aangaan nie.

Dit is ’n gevaarlike buurt en mense bly maar eerder daardie tyd van die nag in hul huise.

Die slagoffer is vermoedelik op die hoek van Usutu­singel en Gilostraat aangeval en die bloedspoor lei tot by ’n huis in Boetsapstraat waar hy oor ’n hek geklim het tot in die erf.

Daar het hy langs ’n kar in die driveway gesterf. Hy is in ’n groot plas bloed gevind.

Reginald Hills, die voorsitter van die buurtwag, sê die gebied is gevaarlik.

“Ons veg elke dag teen bendes en rowers. Ons ken nie die man wat hier vermoor is nie en dit lyk nie of hy van ons buurt af is nie.

“Dit kan wees dat hy van Symphony Way of ’n ander plek af kom.”

Ander inwoners het ook gesê hulle ken hom nie, maar het wel gesê hulle het ook gehoor iemand skree en dat die honde blaf. Mense vermoed hy is met ’n mes of messe gesteek omdat niemand skote gehoor het nie.

Volgens ’n polisiewoordvoerder, kapt. FC van Wyk, word die omstandighede rondom die man se dood ondersoek.

“Die polisie ondersoek ’n saak van moord en ’n lykskouing gaan gedoen word om presies te bepaal wat sy dood veroorsaak het.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters