Verlede maand
Bantry blues vir ses blacks
G'n swartes: Apartheid leef na bewering voort in die posh Bantry Blue-gastehuis in Bantrybaai.  ~ Melinda Stuurman

VERNEDERD.

Só voel ses swart vroue wat die afgelope naweek uit ’n posh gastehuis in Bantry Bay gesmyt is.

Glo vir geen ander rede as dat hulle swart is nie.

Die voorval is wyd op Twitter versprei nadat een van die ontnugterde vroue haar ná die voorval tot die sosiale media gewend het.

Volgens No­nyameko Myeki (28) van Johannesburg het sy en vyf vriendinne Donderdagaand per vliegtuig in Kaapstad aangekom.

Dit was nadat hulle vooraf R 9 000 aan Rennies Travel vir die trippie betaal het.

Myeki het gister aan Son gesê sy en haar vriende is steeds geskok.

Sy sê: “Ons voel vernederd. Dis die eerste keer dat so iets met ons gebeur.

“Daarom het ons geprotesteer en gereageer soos ons gereageer het. Ons is glad nie orrait nie.”

Myeki sê by hulle aankoms by die posh Bantry Blue- gastehuis in De Wet-weg was daar niemand wat hulle as gaste ingewag het nie.

“Ons het die eienaar van die gastehuis later met die hulp van ’n sekerheidswag opgespoor gekry.

“ ’n Ou van die maatskappy airManaged het die volgende oggend gepraat van ’n agterstallige bedrag van R900 waarvan ons nie geweet het nie. Maar hulle wou ook nie ons betaling daarvan aanvaar daarvoor nie.”

Volgens Myeki het die eienaar­ later daar opgedaag en buite met die agent van airManaged, net bekend as Stephen­, gepraat.

“My vriend het gehoor hoe die eienaar vir airManaged sê hy sal dit verkies as daar nie swart mense in sy huis bly nie,” voeg Myeki by.

Sy sê verder die agent en die eienaar wou niks hoor nie en het hulle ’n uur gegee om die plek te verlaat.

Myeki se twiet lees: “Die rassistiese outjie, Stephen, het glad vir ons ’n Uber gebel, want hy wou hê ons moet binne ’n uur weg wees.

“Ons is uit die gastehuis geskop wat deur ons travel agent geboek is toe hy (Stephen) gesien het ons is swart.

“Die Uber driver wat ons kom optel het, het nog ewe ironies aan ons gesê: ‘Welkom in Kaapstad.’ ”

Sy sê sy het die bewyse van betaling en ’n bevestiging van haar agent, Rennies Travel, dat hulle airManaged betaal het.

Ondersoek

Dit het sy aan die kantoor van die nasionale departement van toerisme aangestuur.

Dit is nadat die minister, Nkhensani Kubayi-Ngubane, oor die voorval op Twitter gelees het en dié details aangevra het.

James Vos, die Stad Kaapstad se mayco­-lid belas met ekonomiese geleenthede en batebestuur, het die voorval aan die toerisme-ombudsman verwys vir ’n onmiddellike ondersoek.

“Rassisme het geen plek in die toerismebedryf nie en moet deur almal veroordeel word,” vaar Vos uit.

Die Wes-Kaapse ANC en South African National Civic Organisation (Sanco) het ook die voorval veroordeel.

airManaged het later getwiet daar was geld kort en die huurders wou nie betaal nie. Hulle sê ras het glad nie in die prentjie gekom nie.

Hamba! Die wit eienaar van die gastehuis Bantry Blue het glo die groep swart vroue net ’n uur kans gegee om hulle goed te vat en te waai. Foto’s: TWITTER
pragtig: Die view vanuit die gastehuis in Bantrybaai waar die groep uitgesmyt is.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
4 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters