4 maande gelede
Bail vir twee wat glo rape
VIES: Die gemeenskap is niks happy nie nadat beskuldigdes borgtog gekry het terwyl hulle hof loop vir die verkragting van ’n minderjarige.  ~ Foto ter illustrasie

BORGTOG van R1 000 is aan vermeende verkragters toegestaan en dit het die gemeenskap van Heideveld se woede aangeblaas.

Die gemeenskap voel borgtog moes geweier gewees het aan die twee beskuldigdes wat teregstaan vir die verkragting van ’n 14-jarige meisie.

Maar dit was gister in die Wynberg-landdroshof die geval: Die beskuldigdes van onderskeidelik 18 en 21 jaar oud het bail gekry.

Die tienermeisie is na bewering in Julie by die 18-jarige beskuldigde se huis verkrag nadat sy saam met haar vriendin daar gaan kuier het.

Volgens ’n ingeligte bron het die meisie eers twee weke ná die voorval daaroor uitgepak. Die bron vertel dat die meisie getraumatiseerd is en berading ontvang.

Caroline Peters, die familie se woordvoerder en ’n gemeenskapsaktivis, sê sy stem nie saam met die besluit oor bail nie.

“Ek verstaan dat hulle eerste oortreders is, maar hoeveel keer gaan dieselfde ding gebeur – waar die stelsel eintlik die slagoffer meer traumatiseer?

“Ons het dit met die famous musikant gesien en met die man wat vir die Stad Kaapstad werk. Hulle is ook elkeen op borgtog van R1 000 uit.”

Peters voeg by dat sy meer ontsteld was omdat een van die beskuldigdes se pa sy kind se kant gevat het.

Gatvol

“Hy sê die meisie het ingestem. Ek sê dis steeds verkragting, want ’n minderjarige kan volgens die wet nie toestemming gee nie.”

Rafeeqah Ganger, ’n inwoner, sê sy is gatvol van sulke sake.

“Dis so onregverdig. Daai meisie sal vir ewig met daai pyn sit. Sy is maar 14 jaar oud. Niemand het die reg gehad om haar te verkrag nie.”

Die saak is tot 26 November uitgestel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters