9 maande gelede
Babamoord skok dorpie
TRAGIES: Die baba se dood het ’n hele gemeenskap geruk.  ~ Foto ter illustrasie

DIE gemeenskap van Loeriesfontein is in skok nadat ’n bekende politieke figuur na bewering sy sewe maande oue baba met ’n mes doodgesteek het en toe homself om die lewe wou bring.

David Ockhuys (43), wat van sy vrou, Andrietta Ockhuys (29), vervreemd was, is Woensdag vir die grusame daad in hegtenis geneem.

Brig. Mohale Ramatseba, ’n woordvoerder van die Noord-Kaapse polisie, sê David het sy twee minderjarige kinders by Andrietta gaan haal en hulle by hom gehou.

“Die ma is deur die hof aangewys as die wettige voog. Toe sy vervreemde vrou die kinders wou hê, het hy na bewering geweier en die baba met ’n mes gesteek.

“Die kind is op die toneel dood.”

Klag

Son verneem dat Ockhuys ook hulle tweejarige kind met ’n mes bygedam het en toe sy eie polse gesny het.

“Ockhuys is onder polisiebewaking in die hospitaal. As hy uit die hospitaal ontslaan word, sal hy op ’n klag van moord verskyn.”

Ockhuys het destyds as ’n ANC-lid in die Noord-Kaapse premier se kantoor gewerk. Hy het in 2016 in die munisipale verkiesing vir die Khoisan Rewolusie gestaan, maar is vanjaar terug na die ANC.

Andrietta is ’n maatskap­like werker by Sanca. Sy het voor dit by Maties gestudeer. Sy kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Gizella Opperman, voormalige DA-raadslid vir Loeriesfontein en huidige parlementslid, het op Facebook uitgevaar oor die voorval: “My hart is bitter seer soos net ’n mamma se hart kan pyn oor die gewelddadige gebeure vroeër vandag in my dorp, Loeriesfontein. ’n Welbekende politieke leier van Loeriesfontein het sy baba met ’n mes doodgesteek en homself daarna probeer doodmaak.

Swyg

“Die man het ten spyte van ’n interdik teen hom sy twee kindertjies (7 maande en twee jaar) gevat en geforseer om by hom te bly.

“My kiesafdeling gaan gebuk onder gewelddadige misdaad en die verkragting van minderjarige kinders.

“Die vroue, meestal met geleerdheid soos in die geval van ons maatskaplike werker, swyg weens stigmatisering in die gemeenskap en verdere viktimisering tuis.

“Ons mense kort hulp en genade onbeskryflik groot.”

Die provinsiale polisiekommissaris, lt.genl Risimati Shivuri, het die voorval ten sterkste veroordeel en mense aangeraai om ander maniere te vind om hulle huweliksprobleme uit te sorteer.

“Om iemand se lewe te neem is ’n misdaad en die gereg sal nou sy beloop moet neem.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters