Verlede maand
Babamoord: Ma loop hof
AG MOEDER: Die jong mammie word daarvan verdink dat sy haar pap baba vermoor het.  ~ iStock Images

’N JONG ma van Eersterivier loop tans hof vir die moord op haar babaseuntjie.

Die naam van die ma – wat probleme met verstandelike gesondheid het – en enige ander getuie wat familie van die beskuldigde is, mag nie genoem word nie.

Dít is om die identiteit van die beskuldigde se ouer seun te beskerm.

Die babaseuntjie is op 26 September 2017 gebore en is net ’n paar weke later op 18 Oktober dood.

Behandeling

Die ma was 26 jaar oud toe sy die lewe geskenk het.

Luidens die klagstaat sukkel sy reeds sedert sy 19 jaar oud is met haar geestesgesondheid.

Die staat voer aan die ma het op 14 Oktober 2017 – ’n paar dae voor die beweerde moord – by die Eersterivier-hospitaal oornag.

Dít nadat sy mediese behandeling vir haar geestesgesondheidsprobleme gesoek het. Sy het haar pappe babatjie ’n paar dae later na bewering vermoor.

Die vrou word ook daarvan aangekla dat sy tussen 11 en 12 Oktober die baba op ’n rowwe manier op die bed laat val het.

Die beskuldigde se ma het gisteroggend die getuiebank in die Wes-Kaapse hooggeregshof bestyg om te getuig oor wat daardie oggend voor en middag ná die babatjie se dood plaasgevind het.

Die beskuldigde se ma het in die hof gesê sy het gesien hoe haar dogter haar klein, pappe babatjie op ’n rowwe manier op die bed laat val.

“Ek kan nie presies die dag onthou nie, maar dit was voordat sy gesê het sy wil hospitaal toe gaan omdat sy nie lekker voel nie en dat daar iets nie reg is met haar nie,” getuig die vrou.

Die ouma beweer haar dogter was geïrriteerd en ongeduldig.

“Sy het kwaad geraak as die baba huil en wanneer sy die baba moes borsvoed,” getuig sy.

Die ouma het aan die hof gesê dat sy die beskuldigde eendag gevang het toe sy die baba hardhandig op die bed laat val.

“Sy het op die bed gesit toe sy dit doen. Elke keer as sy die baba optel, het sy gesê: ‘Niemand help my met die baba nie.’ ”

Die ouma het verder getuig toe sy haar vra waarom sy dit doen, het haar dogter daardie dag gesê: “Hierdie kind wil nie ophou huil nie. Hy wil aanmekaar drink.”

“Ek het haar gesê dis verkeerd. Jy kan nie dit doen aan ’n pap, pap baba nie,” het sy getuig.

Oplet

Sy het verder getuig dat sy opgemerk het dat haar dogter aan nageboorte­depressie ly.

“Ek is nie ’n mediese dokter nie, maar as ’n ma kon ek dit oplet,” getuig sy.

Sy getuig dít is waarom hulle besluit het sy moet hospitaal toe.

“Sy is ontslaan en ons is saam huis toe van die hospitaal, maar sy was maar baie moeg.

“Geen medikasie is aan haar gegee nie, net ’n brief,” het die beskuldigde se ma aan die hof gesê.

Die saak gaan Maandag voort.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters