5 dae gelede
Baba tuis ná kapingsvoorval
gevind: Die babaseuntjie is in veilige hande nadat ’n kaper met hom weggery het.FOTO’S verskaf  ~ 

DAAR was trane van blydskap toe ’n babaseuntjie teruggevind is nadat ’n kaper gister met hom die hasepad gekies het.

Danksy die flink optrede van die blitspatrollie en die honde-eenheid is die baba ongedeerd gevind.

Die sewe maande oue baba het in sy karstoeltjie in sy ma se kar gesit toe die kar gesteel is. Die verdagte was duidelik nie bewus daarvan dat hy in die motor is nie en het met hom in die kar gevlug.

Dié voorval het gisteroggend omstreeks 10:30 in Bishop­-weg, Observatory, gebeur. Ná die voorval is ’n flyer met die baba se gesig op orals in die sosiale media versprei.

weer tuis: ’n Kaper het gister met dié babaseuntjie weggery.

Adres

Op die flyer is daar gesê hoe ’n man wat dalk die verdagte kan wees, gesien is waar hy die kind uit die motor haal en stasie se kant toe loop.

Terwyl die baba later by ’n adres in Delville Square in Maitland gevind is, is die motor by ’n ander adres gevind.

Kol. Andrè Traut, ’n polisie-woordvoerder, bevestig die polisie bekyk die omstandighede rondom ’n kaping wat omstreeks 10:30 in Bishop­-weg in Observatory gebeur het.

Traut verduidelik: “Die verdagte het met die slagoffer se Volkswagen Polo gevlug met haar baba binne-in.

“Die onmiddel­like reaksie deur lede van die blits­patrollie en honde-eenheid het gemaak dat die voertuig in Voortrekkerweg, Maitland, gevind is. Verdere ondersoek op die toneel het lede na die adres in Delville Square, Maitland, gelei waar die baba ongedeerd gevind is.”

Volgens Traut is ’n moont­like verdagte geïdentifiseer, maar die persoon is nog nie gearresteer nie.

flink optrede: Die babaseuntjie is veilig in die polisiekar nadat hy aan sy familie terugbesorg is.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters