Verlede maand
Baba se lykie agter kerk gedump
Skok: Die gemeenskap van Lentegeur is geskok nadat die oorskot van ’n pasgebore babatjie in ’n veld gevind is.  ~ Verskaf

DIE Lentegeur-gemeenskap het Donderdag wakker geword met hartseer nuus oor ’n pasgebore baba wie se lykie op ’n oop stuk veld gevind is.

Die babameisie se naelstring was nog aangeheg.

’n Verbyganger het haar omstreeks 11:00 tussen rommel agter ’n kerk in Merrydale-laan, net meters weg van die polisiestasie, gevind.

Byron de Villiers, voorsitter van Lentegeur se gemeenskapspolisiëringsforum, vertel aan Son dat die nuus nie net ’n skok is nie, maar dis ook iets wat mense laat kook van woede.

“Ja, ons woon in ’n tyd waarin dinge baie moeilik is, maar daar is altyd hulp wat sulke situasies betref.

“Ons ken ook nie die ouers of ouer se omstandighede nie, maar watter tipe persoon doen so iets?

“Hier is niks sugar coating nie.”

De Villiers merk op die babalykie is so naby ’n kerk en polisiestasie gedump.

Begeer

“Daar is opsies waaruit mense kan kies – polisiestasies, veilige hawens, hospitale, organisasies, selfs as jy my bel, sal ek graag help.

“Daar is mense wat dit begeer om kinders te hê. Ons sien dit omdat ons die hele tyd saam met maatskaplike werkers werk wat unwanted kinders in die arms van mense plaas wat na hulle wil kyk en liefde wys.”

De Villiers voeg by: “As daar geen alternatief is nie, maak asseblief kontak met my.

“My nommer is ook by die polisie­stasie... Asseblief! Sodat ons nie weer met sulke voorvalle sit nie.

“Ons vra ook dat mense asseblief na vore moet kom as hulle inligting oor die voorval het.”

Sers. Wesley Twigg, polisiewoordvoerder, het bevestig dat die polisie ’n saak van verberging van geboorte ondersoek.

“Enige iemand met inligting oor hierdie voorval kan die ondersoekbeampte, sersant Ricardo Louw, by 078 869 1000 bel of bel Stop Misdaad by 08600 10111.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters