2 maande gelede
Baba se dood spook by twee
PYN: Kelly Gribi en Nerina Swartz is getraumatiseer nadat hulle alles in hulle vermoë gedoen het om baba Arial se lewe te red.  ~ Jonathan Lestrade

“AL WAT ek wou hê, is dat iemand my kind moes help.”

Só sê die gebroke Nerina Swartz (37) van Avonwood in Elsiesrivier nadat sy haar pasgebore baba, Arial­, sowat twee weke gelede aan die dood afgestaan het.

Swartz sê haar baba se geboorte was skielik omdat sy maar net sewe maande swanger was.

Maar op 10 Maart het dié ma van vyf sonder enige waarskuwing gevoel hoe haar water breek en die baba het onmiddellik gekom.

“Ek het my skoonma geroep en sy het na ’n buurvrou gegaan om die ambulans te skakel, maar die ambulans het nooit uitgekom nie.

“My buurvrou Charmen het haar dogter Kelly gestuur om my daghospitaal toe te neem.”

Kelly Gribi (27), die buurvrou se dogter, sê by haar aankoms het sy gesien die baba lewe. Sy het gehuil en aan haar ma se bors gedrink.

Swartz sê omdat niemand geweet het hoe om die baba se naelstring te knip nie en hulle meer as ’n uur gewag het op ’n ambulans, het hulle besluit om hospitaal toe te ry. Dit is sowat ’n kilometer van haar huis af.

“Toe ons by die daghospitaal aankom, het ons by drie verskillende ingange hulp gesoek.

“Ons is van die een ingang na die tweede gestuur en daar wou niemand ons help nie. Ons is gestuur na die derde ingang by die maternity ward, waar ons ook weggewys is,” vertel Swartz.

Verwys

Die mammie sê die verpleegster by die derde ingang het na die kar gekom en vir haar en Gribi gesê daar is nie suurstof nie en sy deal nie met premature babas nie.

Beide Gribi en Swartz het twee ambulanse by die fasiliteit opgemerk, maar die verpleegster het hulle na die Tygerberg-hospitaal verwys.

Sy het ook gesê dat as Swartz vroeër in die fasiliteit gebly het, sou sy haar kind in die kraamsaal kon baar.

Gribi sê terwyl hulle op pad Tygerberg toe was, het Swartz gesê sy was op 8 Maart laatmiddag in die noodeenheid in die Elsies­rivier-daghospitaal omdat sy rugpyn ervaar en begin bloei het.

“Die dokter het vir my gesê my plasenta lê laag, maar my baarmoeder se mond is toe en het niks gesê dat ek naby kraam is nie.

“Ek is ná die ondersoek uit die hospitaal ontslaan,” sê sy.

Gribi sê sy het bekommerd geraak toe die baba van kleur begin verander.

Hulle het na die Tygerberg-hospitaal gejaag, ’n reis wat op ’n reënerige dag 20 minute in die verkeer geneem het.

By hul aankoms het ’n nurse na die kar gekom en die baba se naelstring geknip.

Swartz sê: “Nadat sy die nael­string­ geknip het, het haar tone begin beweeg.

“Sy het haar gevat en gehardloop met haar tot binne-in die hospitaal. Ek is ook ingeneem vir ’n ondersoek en het daar gelê.

“Om 13:00 toe kom die dokter na my toe om vir my te sê my kind is oorlede.

“Die dokter het gesê die kind se longe het platgeval; sy het nie genoeg suurstof gekry nie en haar hart het ingegee.”

Swartz sê dit breek haar hart dat sy nie hulp kon kry vir haar kind nie.

Die gebroke mammie sê sy soek antwoorde en wil weet waarom sy weggewys is en waarom sy nie hulp kon kry nie.

Sy soek justice vir haar baba.

“Ek het al vyf kinders grootgemaak. Dit was na­latigheid wat veroorsaak het dat my kind nie hier is nie.

“Ek was op datum met alles,” sê sy.

Mark van der Heever, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, sê: “Ons is baie hartseer om van hierdie voorval te hoor en ons sal ’n ondersoek instel om ál die feite in verband met hierdie ongelukkige voorval te bepaal.”

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) ondersoek ook die omstandighede rondom klein Arial se sterfte. Van der Heever het bygevoeg hulle sal in dié verband met die SAMRK saamwerk.

VOEL SLEG: Kelly Gribi sê sy is hartseer dat sy nie meer kon doen om Nerina Swartz en haar baba te help nie. Foto: Jonathan Lestrade

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters