14 dae gelede
Baba in sakkie gevind
melomed,baba
Foto van die baba met die security guard wat haar gevind het.  ~ 

'N TWEE weke-oue baba wat in ‘n sakkie op Melomed-hospitaal in Bellville se oprit gevind is, sterk goed aan. 

Shameema Adams, 'n woordvoerder van die hospitaal-groep, vertel die meisiekind het in almal by die hospitaal se harte gekruip.

"Sy is steeds in die hospitaal se pediatriese-saal."  

'n Melomed-sekuriteitswag het die kleintjie Dinsdagmiddag omstreeks 17:40, toegemaak in 'n groen handdoek en in 'n plastieksakkie gevind, sê Mihlali Majikela, 'n polisiewoordvoerder.

"Ons het 'n saak van kinderverlating geopen, wat reeds ondersoek word." 

Adams sê toe die baba gevind is, het die hospitaal haar opgeneem en is sy eers ondersoek. Daarna het hulle haar gebad en gevoed.

"Die hospitaal se bestuur het onmiddellik die departement van maatskaplike dienste verwittig.

"Die maatskaplike werker het gereël dat die kind in pleegsorg opgeneem word. Een van die voorvereistes is om eers die baba vir Covid-19 te toets sodat die pleegouers beter ingelig is om haar te versorg." 

Enigeen met meer inligting wat die polisie in hul ondersoek kan help, kan speur-sersant  R. Davids by 082 522 1095 bel.

Jy kan ook die Bellville se eenheid teen gesinsgeweld by 021590 1001 bel. Alternatief kan jy die Bellville-polisie by 021 918 3000 bel of Stopmisdaad se tolvrye nommer by 08600 10111.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters