Verlede maand
Baas van bende-eenheid word ondersoek
Andre Lincoln
Anti-Gang Unit head, Major General Andre Lincoln.  ~ Jaco Marais, Gallo Images

DIE Wes-Kaapse hoof van die polisie se bende-eenheid, genl. maj. Andre Lincoln, word intern ondersoek oor sy beweerde versuim om lyfwagte vir lt. kol. Charl Kinnear te reël, berig News24.

Kinnear is op 18 September buite sy huis in Bishop Lavis doodgeskiet. Dit nadat die top-polisiebestuur voor die voorval ingelig is van Kinnear se bewegings wat dopgehou word.

Die oudrugbyspeler, Zane Kilian, is sover die enigste verdagte wat in verband met Kinnear se moord in hegtenis geneem is. Kilian het die topspeurder se selfoon meer as 2 000 keer geping.

News24 berig Lincoln word in die amptelike kennisgewing oor die ondersoek ingelig hy het na bewering tussen 3 en 18 September (die tyd toe die polisie reeds geweet het Kinnear word dopgehou) wangedrag gepleeg deur nie beskerming vir Kinnear te reël nie.

Die tweede klag hou verband met die beweerde versuim om die Wes-Kaapse polisiekommissaris en die hoof van die provinsie se misdaadintelligensie-eenheid oor die bedreiging van Kinnear se lewe in te lig.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters