7 dae gelede
Atlantis-man is ook geskiet
MAAR WEER SO! Nóg ’n voorval van taxi-geweld het gister in Witsand, Atlantis, plaasgevind toe ’n taxi-eienaar buite sy huis raakgeskiet is.  ~ Foto ter illustrasie / Leon Knipe

ATLANTIS. – ’n Taxi-baas is in die hospitaal nadat hy buite sy huis raakgeskiet is.

Die slagoffer, Joseph Nkele, is die voorsitter van die Cape Amalgamated Taxi Association (Cata) in Saxon­sea.

Volgens Mandla Hermanus, ’n Cata-woordvoerder, is die 42-jarige Nkele in die hospitaal opgeneem met skietwonde in sy bors en bene.

Hy het sy voertuig gisteroggend omstreeks 04:20 in Mnga-straat, Witsand, ge­start toe onbekende mans hom genader het en op hom losgebrand het.

Nkele het daarin geslaag om in sy huis te vlug en is later in die hospitaal opgeneem.

Hermanus voeg by: “Ek is nie bewus van sy huidige toestand nie, want net sy vrou is toegelaat om hom in die hospitaal te besoek.”

Son het vroeër berig Cata en sy mededinger, die Cape Organization for the Democratic Taxi Association (Codeta), is in ’n dispuut gewikkel rakende die roete tussen Mbekweni, die Paarlse middestad en Bellville.

Volgens Hermanus is daar nog geen ooreenkoms tussen Cata en Codeta oor die roete bereik nie.

Hy sê verder: “Die uitdaging is dat as ons om die onderhandelingstafel met ’n aanbod uitkom, word dit deur die lede verwerp.

“Die kwessie is die roete wat onder Cata was. Codeta se mense het egter op ons mense geskiet en hulle weggejaag.

“Ons lede het sedertdien nooit weer daar gery nie.”

Son het vandeesweek berig ’n Golden Arrow-busdrywer is Maandagoggend naby Nyanga in die gesig geskiet.

Golden Arrow het sedert Maandag-middag begin met ’n beperkte diens omdat die meeste busdrywers vrees om agter ’n stuurwiel in te skuif.

Voorval

Duisende pendelaars was dus gister gestrand oor Golden Arrow net ’n beperkte diens kan aanbied.

Daar is ook Maandagoggend naby die Langa-taxi-staanplek op ’n kombi geskiet.

’n Vyf maande oue baba is verlede week in Khayelitsha raakgeskiet in ’n voorval wat drie mense se lewe geëis het.

’n Voorsitter van die Cape­ Metro Development Council, Ndithini Tyhido, doen ’n beroep op die taxiverenigings om die geweld te stop.

Hy sê: “Enige mens wat op vyf maande oue baba kan skiet, is ’n siek mens. Ons veroordeel die targetting van onskuldige pendelaars ten sterkste.”

Die adjunkminister van staatsveiligheid, Zizi Ko­dwa, sê sy kollega die nasionale minister van vervoer, Fikile Mbalula, werk hard om ’n stop te sit aan die voortslepende taxi-geweld in die Kaap.

“Ons probeer ons bes om ’n oplossing te kry en die taxi-bedryf te stabiliseer,” sê Kodwa.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters