Verlede jaar
Ashwin sit voet neer
In die middel: Nick Mallett (links) en Ashwin Willemse het al voorheen koppe gestamp. Regs is Naas Botha.  ~ 

DIE rugbywêreld en uitsaaibedryf is Saterdagaand tot in hul fondament geskok toe die voormalige Springbok en deesdae TV-ontleder Ashwin Willemse sy mede-aanbieders op nasionale TV gekap het oor hulle hom “ondermyn”.

Willemse het toe voor miljoene kykers uit die ateljee gestap. Hy was saam met die voormalige Springbokke Nick Mallett en Naas Botha in die SuperSport-ateljee ná die Superrugby-stryd tussen die Lions en die Brumbies.

Die duidelik gatvol Willemse het Mallett en Botha op ’n ordentlike manier op hul plek gesit.

Twee video clips van die voorval het viral gegaan.

In die een jou Mallett en Botha vir Willemse uit en in die ander sit Willemse sy voet dwars neer.

Ashwin sê: “Ek het hierdie spel lank gespeel en ek is dikwels as ’n kwotaspeler beskou. Ek het hard gewerk om respek te verdien. So, ek gaan nie toelaat dat twee apartheidsera-spelers afpraat na my nie.

“Ek het genoeg gehad. Ek kan nie saam met mense werk wat my ondermyn nie.”

Voordat hy geloop het, het hy gesê: “Dis fine, dis fine, ek gee nie om om belaglik te wees nie. Ek’s bly dit het op live TV gebeur sodat mense kan sien...” Dis die tweede keer dat Willemse en Mallett op live TV vassit.

Beter

Toko Xasa, minister van sport, het gister gesê sy is geskok. Sy meen Mallett en Botha moet onmiddellik geskors word.

Xasa sê in ’n verklaring: “Party wit Suid-Afrikaners dink steeds hul witheid beteken hulle is beter. Dié eiegeregtige gedrag moet end kry.

“As dit nie was vir die barbaarse, onsinnige apartheidstelsel wat hulle bevoordeel het nie, sou ons nie ’n kwotastelsel benodig het om ’n abnormale stelsel reg te stel nie.”

Xasa voeg by: “Willemse is nie net ’n voormalige Springbok nie, hy is in 2003 aangewys as SA rugbyspeler van die jaar én spelers se speler van die jaar. Spelers soos Willemse, Bryan Habana en Siya Kolisi maak ons trots as ’n nasie en wys dat hulle nie net kwotaspelers is nie.”

SuperSport sê hy doen ’n interne ondersoek voordat hy kommentaar lewer.

Tony Ehrenreich, Wes-Kaapse Cosatu-sekretaris, ondersteun Willemse.

Hy sê: “Ek is moeg daarvan dat die boeremafia rugby beheer. Dit moet verander.

“Kyk na die keer toe Eben Etzebeth bo die Stormer-kaptein, Siya Kolisi, as Bok-kaptein aangestel is. Dis tyd dat die regering ingryp.”

Die Wes-Kaapse ANC is ook ontsteld oor die voorval en sê dit strek baie verder as die rugbyveld en ateljee.

“Die ANC glo Ashwin se public walkout weerspieël wat baie swart mense in kantore en raadsale in dié land ervaar. Swartes word gereeld ondermyn, betwyfel en neerhalend mee gepraat en grootliks laat voel hulle hoort nie in spesifieke kringe of in dieselfde werksomstandighede nie.

“Hierdie voorval het baie mense warm onder die kraag gemaak en die oë laat oopgaan oor hoe baie rassisme steeds voorkom.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters