Verlede jaar
Ashwin druk deur hof toe
Rugbyster: Ashwin Willemse in aksie toe hy vir die Springbokke uitgedraf het.Foto verskaf  ~ 

MENSE moet hulle nie net blind staar teen daardie SuperSport-episode nie, want ’n groter ding is op pad.

Só praat ’n bron naby aan Ashwin Willemse ná die voorval in die SuperSport- ateljee op 19 Mei.

Dís die dag toe die oud-Springbok uitgestap het terwyl hy, Nick Mallett en Naas Botha kommentaar gelewer het op ’n rugbywedstryd.

Bevindinge is Dinsdag bekend gemaak oor wat daardie dag in die SuperSport-ateljee gebeur het.

Adv. Vincent Maleka SC het die ondersoek gedoen. Hy het bevind geen rassisme was betrokke nie.

Willemse het besluit om nie ’n verslag in te dien nie.

Volgens die bron moet die hele voorval nie beskou word as ’n Ashwin Willemse-voorval nie.

“Dis ’n groter ding wat gebeur het. Dit wys ons land moet verenig. ’n Mens moet dieper kyk na die ding.

“Dit wat gebeur het, is ’n vorm van verdrukking. Dis emosionele verdrukking en dit kom neer op rassisme.

“Ashwin is ’n werknemer van SuperSport en dinge in sy kontrak verhoed hom om te praat. Hy gaan wel later met die sak patats uitkom.”

Die bron sê baie mense bestorm Willemse en sê hulle verstaan waardeur hy gaan. “Baie van die mense is spelers wat destyds in die apartheidsjare (vir die Suid-Afrikaanse Rugby­unie) gespeel het.”

Rumours doen ook die ronde dat Willemse en Mallett nie oor die weg kom nie.

Luidens Maleka se verslag het Mallett gesê hy en Willemse sit soms vas.

Die bron sê Willemse is ’n mense-mens en hy kom met mense van alle rasse en klasse oor die weg. “Ook die mense wat onder ’n brug bly.”

Hy voel Mallett kon dit mos al lankal genoem het as hy nie met Willemse oor die weg kom nie.

Mense het ook beweer Willemse kom soms laat by die werk, maar die bron sê dis snert.

“Hy is betyds vir sy werk. Hy is ’n professionele persoon. Dis ’n blatante leuen.”

Hy sê daar moenie nou met woorde politiek gespeel word nie.

“Stel net die feite van die saak. Ashwin staan by wat hy die dag in die ateljee gesê het.”

Die bron sê ook Willemse het besluit om nie nou sy verslag in te dien nie omdat dinge nie reg verloop het nie en hy in die proses benadeel sou word.

Volgens Jacaranda FM het Willemse se regspan gesê hulle gaan na die gelykheidshof toe.

Sy lawyer, Nqobizitha Mlilo, het aan die radio­stasie gesê die onafhanklike verslag is ’n “vrugtelose oefe­ning”.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters