7 dae gelede
Apps in oorlog gebruik
Mandla Hermanus  ~ Foto Verskaf

DREIGEMENTE dat pendelaars in die voortslepende taxi-geweld geskiet gaan word, doen die ronde in die sosiale media.

Dié vrees word versprei via voice notes op WhatsApp.

Terwyl die taxi-onrus heers en mense op ’n knop gejaag word uit angstigheid, is dit die land en sy ekonomie wat vieslik daaronder ly in ’n tyd wat Suid-Afrika beslis nie kan bekostig nie.

In dié boodskappe word pendelaars gewaarsku dat hulle ’n teiken kan raak sou hulle alternatiewe vervoer gebruik.

Een so voice note lui: “Aan almal. As jy die bus vat, skiet ons! As jy taxi vat, skiet ons!

“Moenie eens dink om ’n taxi of ’n bus te neem nie.”

Son het Mandla Hermanus van die taxi-organisasie Cata hieroor genader.

Hermanus verduidelik: “Ons is bewus van hierdie voice notes en dit kom nie van ons af nie. Dis misdadigers wat gebruik maak van die stand-off tussen Cata en Codeta.”

Gershon Geyer van Santaco bevestig dat die voice notes ook onder hul aandag gebring is. Hy sê Santaco is gekant teen enige geweld.

Volgens hom kon Cata en Codeta ná ’n week van onderhandelinge steeds nie ’n ooreenkoms bereik nie.

Roete

Geyer sê: “Santaco het sy bes gedoen om ’n ooreenkoms van vrede tussen die twee organisasies te bewerkstellig.

“Dis nou in die hande van die regering om ’n besluit te neem oor wie die regmatige organisasie is op die Paarl-Bellville-roete.”

Dr. Guy Lamb, ’n kenner in polisiëring, veiligheid en misdaad aan die Universiteit Stellenbosch, het ook sy mening gegee.

Lamb meen die taxi-geweld gaan veral mense benadeel wat reeds in kwesbare werksposisies is – mense wat vir ’n daaglikse of weeklikse loon werk.

Lamb sê: “Dis dié mense wat nie by hul werk uitkom nie en sukkel om weer tuis te kom.

“Domestic workers val in hierdie kategorie. Hoe gemaak as hulle nie veilig huis toe kan gaan nie?”

Lamb sê die skietery oor en weer van rival taxi’s raak almal.

“Dís nie net taxi-bestuurders en guards nie, maar pendelaars wat in die kruisvuur beland. Dié wat in sekere taxi’s ry, is ook kwesbaar.

“Die taxi-geweld spoel ook oor na busdienste toe. ’n Voorbeeld is die Golden Arrow-busdrywer wat in die week geskiet is. En dis nie die eerste voorval nie.

“Met elke dispuut oor roetes kom ander vorms van vervoer in gedrang en word dit getarget.”

Codeta het nie op Son se navrae om kommentaar gereageer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters