3 maande gelede
Appels val in hospitaal hit
ondersoek: Die toneel waar Jonathan “Appels” Hein doodgeskiet is, word gefynkam vir leidrade.  ~ 

JARE lank moes ander mense sy vuil werk doen en dan daarvoor boet.

Ouers wie se kinders in die kloue van Jonathan “Appels” Hein (35) beland het, het gister lang krokodiltrane gehuil.

Gisteroggend toe kry Hein, die leier van twee gevreesde bendes in Elsiesrivier – die Young Ones en Twaalf Dissipels – sy dag.

Dít is hoe die gemeenskap van Elsiesrivier voel.

Hein is ten aanskoue van ander pasiënte in die parkeerarea van die Tygerberg Hospitaal doodgeskiet.

Hoewel sy twee body­guards saam met hom was, kon hulle hom nie beskerm toe twee mans op hom begin losbrand het nie.

Hein was by die hospitaal om sy skietwonde te laat skoonmaak wat hy byna drie weke gelede in ’n ander skietvoorval opgedoen het.

Jonathan ‘Appels’ Hein

Hy is toe twee keer in die regterkant van sy nek geskiet en ook deur die vinger.

Daardie voorval het oorkant die Elsiesrivier Daghospitaal gebeur.

Hein het daardie voorval oorleef nadat sy tjommie hom na die einste Tygerberg Hospitaal aangery het

Gerugte wil dit hê dat Hein Sondag nog ’n hit op ’n dranksmokkelaar gesit het.

Die man is in sy maag gewond toe daar op hom losgebrand is.

Daar is nou sprake daarvan dat die einste smokkelaar toe besluit het om self ’n hit op Hein te sit nadat hy die aanslag op sy lewe oorleef het.

’n Inwoner van Clarke Estate wat anoniem wil bly, beskryf Hein as ’n “gemors”.

Sy sê: “Hy was ’n evil vullis wat ander mense se lewe hel gemaak het.

“Ander mense moes sy vuil werk doen en dan moes hulle gaan mang. Uiteindelik is hy doodgeskiet!”

John van der Heever (53), Hein se pa, was erg geskok en sprakeloos toe hy by die toneel aankom.

’n Verslae Van der Heever het bevestig sy seun was ’n leier van die 26-bende en dat hy vir ’n dressing vir sy skietwonde by die hospitaal was.

Hein se driver, wat verkies om anoniem te bly, het aan Son vertel Hein was op pad na die kar toe ’n vrou hom nader.

Die driver vertel: “Sy het hom vir ’n lift gevra.

“Twee mans het onder die brug uitgehardloop gekom. Toe skiet hulle hom in die maag en gooi hom grond toe.

Toneel

“Daarna het die skieter die gun leeggemaak op Appels. Hulle het toe in ’n Toyota Corolla weggejaag.”

VORIGE POGING: Hein lê in die hospitaal ná ’n hit op hom sowat drie weke gelede. FOTO’S verskaf

Die driver sê hulle vermoed die vrou, wat soos mis voor die son van die toneel verdwyn het, is deur die skieters gebruik om Hein se aandag af te trek.

Gistermiddag ná die voorval is ’n waarskuwing in die sosiale media versprei dat mense moet wegbly uit Clarke Estate en Ravensmead. Daar word gevrees Hein se manskappe gaan wraak neem.

’n Woordvoerder van die polisie, lt.kol. Andrè Traut, het bevestig ’n man is omstreeks 11:15 in die parkeerarea van die Tygerberg Hospitaal geskiet.

Traut het gesê twee verdagtes het daarna van die toneel gevlug. Hy voeg by hulle ondersoek die omstandighede rondom die moord. Daar is nog geen arrestasies uitgevoer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters