12 dae gelede
Apostel in mang
Getraumatiseer: Die mammie is baie ontsteld.  ~ _peter abrahams

’N GODSMAN van Elsiesrivier sit in die tjoekie nadat hy na bewering ’n 10-jarige meisie seksueel gemolesteer het.

Die cops het die betrokke apostel Vrydagaand by sy huis gearresteer. Dit kom nadat die 10-jarige meisietjie se ma ’n saak van seksuele molestering by die polisiestasie in Elsiesrivier geopen het. Die dokter het na verneem word bevestig dat die kind seksueel gemolesteer is. Volgens die omgekrapte ma was die laaste strooi laas Donderdag toe haar stiefpa haar ma in die huis aangerand het.

Sy vertel: “My kind het altyd gekla dat die oom aan haar boude of holle vat as hulle alleen is. Ek het hom al gekonfronteer daaroor en elke keer is ek as ’n mal tikkop uitgemaak.

Bloed

“Sy seuns het my ook al twee keer valslik beskuldig dat ek hul goed gesteel het en ek is voor my kinders deur die polisie geboei. Hy het my ook gedreig dat hy my op straat gaan uitsmyt.

“Laas Donderdag het my stiefpa weer begin met sy nonsens en my ma aangerand. Ek het probeer keer, toe word ek ook aangerand. Ek het toe die volgende dag my kind gevat en na die polisiestasie geneem.

“My ma was ook saam en ek het ’n saak van seksuele aanranding gaan oopmaak. Die polisiebeampte het ons na die hospitaal geneem, waar my dogtertjie deur ’n dokter ondersoek is. Hy het bevestig my kind is seksueel gemolesteer en ook gepenetreer.

“Die polisie het hom daarna dieselfde aand by die huis gaan arresteer. Die volgende dag het ek my dogtertjie na die polisiestasie geneem om haar verklaring af te lê. Ek moes die verklaring aflees en daarna teken. Dit was baie hartseer wat hy met my kind aangevang het.”

Volgens die kind se ouma het die beweerde dade altyd in die middae plaasgevind wanneer sy geslaap het.

Die ouma sê: “Laas Donderdag het ek nie soos gewoonlik gaan slaap nie. My man wou weet hoekom ek dan nie slaap nie. Hy was baie geïrriteerd oor ek nie gaan lê het nie en het met my begin moeilikheid soek.

“Ek het nie geweet wat hy in die middae met my kleinkind aanvang nie.”

Die 10-jarige se ma sê: “My suster wat ook in die huis woon, het haar dogtertjie en my meisiekind gebad en daar was bloed aan my kind se panty. Ons het gedag dis haar maandstonde en het vir haar pads gegee.

“Dit het nie weer daarna gebeur nie, maar sy het gereeld ’n afskeiding gehad. Ons het gedink dis infeksie en gedog dis die toiletpapier wat die rash by haar veroorsaak. Toe ek haar polisieverklaring gelees het, het dit alles vir my begin sin maak wat met die kind gebeur het. Hy het dit gedoen terwyl my ma in die middae geslaap het en ek besig was met my werk in die huis.

“Ek werk vir ’n internasionale maatskappy en is meeste van die tyd besig op my phone met klante.”

Die kerkman het Maandag en Dinsdag in die Goodwood-landdroshof op klagte van seksuele molestering verskyn. Hy sal weer op 18 Oktober in die hof verskyn.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters