21 dae gelede
Antie sê haar mengsel help vir enige siekte
Doepa: Yolanda Hector glo haar geneesmiddel kan die wêreld red.Foto: Jonathan Lestrade  ~ 

DIE regering moet haar doepa kom haal en laat toets – moontlik kan dit Covid-pasiënte red.

Só sê Yolanda Hector van Malibu oor haar medisyne-mengsel wat haar familie al jare lank gebruik as geneesmiddel vir al wat ’n kwaal is.

Hector glo haar mengsel kan lewens red en sy wil nie meer ’n sekonde langer stilbly daaroor nie.

Sy sê haar familie gebruik die mengsel reeds ’n dekade vir enige siektes, insluitend verkoues en longprobleme.

“Dit het ons reeds gehelp teen koors en my eie asma-bors.

Verklap

“Toe die virus ons land tref, toe besef ek dit is iets wat dalk mense kan help. En nou wil ek die wêreld daarvan laat weet,” sê sy.

Hector wou nie verklap wat alles in die mengsel is nie, maar noem dit bevat vars suurlemoen, borsdruppels en heuning.

Haar skoonsuster Cheryl Hector, ’n diabeet wat laas maand positief getoets is vir Covid-19, het die mengsel gebruik.

“Ek het dit elke dag vir 12 dae gebruik en het al hoe beter begin voel. Vandag is ek alweer fris en gesond,” sê Cheryl.

Yolanda sê: “Die staat kan dit laat toets en vir ons laat weet of dit is soos ek glo. En as dit werk, dan kan hulle dit met meer mense deel.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters