Verlede maand
Antie doodgelem
Magdeline Isaacs se boyfriend
Waar is hy? Magdeline Isaacs se boyfriend, bekend as Toyer, word tans deur die cops gesoek om meer lig op haar moord te werp.  ~ Verskaf

DIE bebloede lyk van ’n antie van Manenberg is Maandagmiddag in haar slaapkamer gevind.

Magdeline Isaacs (63) se lyk het in ’n plas bloed op die vloer in haar slaap­kamer gelê.

Sy is verskeie kere met ’n mes gesteek en haar dogter wat uit die werk gekom het, het op haar lyk afgekom.

Die familie vermoed dat dit haar boyfriend (Toyer) kan wees, aangesien hy nog die laaste persoon was wat saam met haar in die huis was.

’n Hartseer familielid, Anastasia Williams, sê: “Haar dogter het uit die werk gekom en op haar ma se lyk afgekom.

“Sy het nog die oggend haar ma gesien toe sy by die huis uit is.

“Haar ma het vir haar medisyne aangemaak vir haar maag wat gepyn het.

“Ons vermoed sy is al die oggend vermoor en dat dit nie ’n inbraak was nie.

“Niks is uit die huis gesteel nie. So, dit moet iemand wees wat sy geken en ingelaat het.”

Volgens haar skoonseun, Jerome Japtha, het sy skoonma net Sondag teruggekom van vakansie met vriende.

Japtha sê: “Ná die voorval is my skoonma se vriend net weg.

“Sy selfoon is af en hy antwoord dit nie. Hulle is die afgelope vyf maande saam.

“Hy het nie by my skoonma in die huis gewoon nie en het soms daar gekom.”

Isaacs se hartseer familie het gister haar lyk by die Soutrivier-lykhuis gaan uitken.

Die cops het die voorval bevestig. Niemand is al gearresteer nie. ’n Moordsaak word ondersoek.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters