Verlede jaar
ANC-raadslid doodgeskiet
Mzukisi Victor Molosi FOTO verskaf  ~ 

DIE Wes-Kaapse ANC-sekretaris, Faiez Jacobs, het ’n beroep om kalmte gedoen ná die “skokkende” moord op ’n ANC-wyksraadslid van Knysna se stadsraad.

Mzukisi Victor Molosi is Maandagaand meters van sy huis in Concordia in die kop geskiet.

Jacobs sê hy is “baie bedroef” oor die dood van dié “hardwerkende en sagte comrade”.

Jacobs sê: “Hy (Molosi) is onlangs as die streeksekretaris aangestel. Hy het baie in die White City-gebied gewerk. Ons weet nie wie in White City hom wou stilmaak nie.

“Ons veroordeel dit ten sterkste, maar vra al die inwoners van White City om kalm te bly. Ons vra ook enige iemand met inligting om die owerhede daaroor in te lig.”

’n Polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, sê die voorlopige ondersoek dui aan Molosi was op pad huis toe vanaf ’n vergadering.

Volgens Pojie is die 50-jarige wyksraadslid omstreeks 22:00 geskiet.

Pojie sê verder: “Die verdagte het ’n paar skote op die slagoffer afgevuur.

“Hy het ’n skietwond aan sy kop opgedoen en is later in die hospitaal dood.”

Pojie vra enige een met inligting oor die voorval om die ondersoekbeampte, AO Reginus Quine, by 044 302 6652 of 082 791 7676 te kontak óf Crime Stop by 08600 10111 te bel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters