27 dae gelede
Alle oë nou op 1ste verdagte
charl, zane, moord
SOONTOE: Swaar gewapende cops was teenwoordig toe Killian by die hof aankom en dit verlaat.  ~ JONATHAN LESTRADE

GAAN hy piemp of nie?

Alle oë is nou gerig op die eerste verdagte wat vasgetrek is in verband met die sluipmoord op die top-cop lt.kol. Charl Kinnear.

Kinnear is ’n week gelede voor sy huis in Bishop Lavis afgemaai.

Dié waaghalsige sluipmoord wat helder oordag gepleeg is, het skokgolwe regdeur die land gestuur.

Vrydag het die cops se koorsagtige pogings om diegene agter die moord vas te trek, vrugte afgewerp toe die voormalige Griekwas- en Valke-rugbyspeler Zane Killian in verband met die moord in die Bishop Lavis-landdroshof verskyn het.

Daar word bespiegel dat Kinnear se ondersoek na vuurwapensmokkelary tussen cops en bendes hom sy lewe gekos het.

Transaksies

Kinnear se volharding om die skuldiges aan die pen te laat ry en nie tou op te gooi soos ondersoekbeamptes wat voor hom aan die saak gewerk het nie, is volgens kenners die oorsaak van sy moord.

Daar word bespiegel dat Kinnear veels te na aan die meesterbreine gekom het wat die bloedvergieting op die Kaapse Vlakte aangeblaas het met hul dodelike transaksies.

Son het vroeër berig Kinnear se selfoon is voor die dodelike aanval getrack.

Hierdie tracking het gelei na Killian, wat glo sy eie tracking company het. Hy is na bewering ook ’n skuldinvorderaar.

Swaar gewapende cops en ’n vrag joernaliste was Vrydagoggend teenwoordig by Killian se vlugtige hofverskyning.

Killian (39) staar klagte van moord, sameswering om moord te pleeg en die onderskepping van kommunikasie in die gesig.

Hy verskyn weer op 5 Oktober in die hof, waar hy dan om borgtog aansoek sal doen. Tot dan bly hy in aanhouding.

Die publikasie Daily Maverick berig 15 minute voor die sluipmoord op Kinnear het ’n CCTV-kamera ’n persoon in Gearingweg naby Kinnear se huis opgevang wat ’n rooi-en-oranje hoodie gedra het.

Die man stap ongeërg tot by Kin­near se kar en vuur dan skote op Kinnear se kop af. Kinnear se eie CCTV-kameras het ook die man opgevang.

Killian is in Springs aan die Johannesburgse Oosrand vasgetrek – dieselfde plek wat Kinnear ’n week voor sy moord besoek het as deel van sy ondersoek na die beweerde onderwêreld-kingpin Nafiz Modack.

Ook in Kinnear se visier was agt hooggeplaaste polisiebeamptes wat daarvan verdink word dat hulle saam met hul kollegas van die sentrale vuurwapenregister (CFR) gekonkel het om onwettige guns te bekom.

Kinnear was op die punt om twee brigadiers in Gauteng te gaan arresteer toe hy voor sy huis afgemaai is.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters