10 dae gelede
Ai, die loodvoete
OPLOSSING?Polisiebeamptes kan mos saam met die driver op die trein wees en gewapende wagte kan by hot spots ontplooi word.Foto: Leon Bonthuys  ~ 

DUISENDE treinpendelaars was gisteroggend weer laat vir werk.

Díé keer omdat ’n skakelpaneel verbrand is.

Riana Scott, Metrorail se woordvoerder, het gesê gister omstreeks 03:30 is aangemeld ’n 11 kV-skakelpaneel wat die kragtoevoer by Woodstock reguleer, is beskadig.

Alle treine wat by Kaapstad se stasie moes inkom of dit verlaat, is hierdeur geraak. Almal moes individueel en manually deur die beheersentrum gelei word.

“Treine moes agter mekaar op toestemming wag. Dit het gemaak dat daar vertragings van langer as ’n uur was,” het Scott gesê.

Sy het ook gesê hulle het nie statistieke byderhand oor al die voorvalle nie.

“Misdaad­patrone skuif van plek tot plek, afhangend van waar misdadigers maklik toegang kan kry.

“In Junie 2017 was die seinprobleme by die Kaap-stasie weens voorvalle van brandstigting en in Januarie ver­lede jaar was dit as gevolg van ’n veldbrand.”

Teen 15:00 gistermiddag kon tegnici noodherstelwerk voltooi en is die kragtoevoer herstel. Scott het gesê daar sal steeds vertragings wees, maar ’n redelik stabiele diens word verwag.

Verlede week sou lede van die ANC se nasionale leierskorps treinstasies in die Kaap besoek. Paul Mashatile, tesourier-generaal van die party, sou na verwagting op die Bellville-treinstasie wees. Die beplande besoek is egter op die nippertjie uitgestel.

Met Son se besoek verlede Vrydag aan die stasie het ’n groot spoorwegpolisieteenwoordigheid vir die afvaardiging gewag.

“Indien dit aangevra is, sou die vlak van sekuriteit voldoende gewees het vir die besoek deur die afgevaardigdes,” was Metrorail se reaksie by navraag.

Op ’n vraag oor waarom Metrorail die groot polisieteenwoordigheid vir ’n besoek deur politici kon reël, maar nie daagliks vir sy pendelaars sorg nie, het Scott net haar antwoord herhaal.

Sy het wel later van deuntjie verander en gesê hulle het saam met die spoorwegpolisie hul gebruiklike veiligheidsbewusmakingsveldtog op Bellville gehad.

Anders as met hul ander bewusmakingsveldtogte, was daar tot gistermiddag niks op hul sosialemedia-platforms nie.

Dit was die afgelope naweek reeds ’n maand dat daar geen beweging op die sentrale lyn is nie. Volgens ’n ingeligte sou die sentrale lyn Vrydagoggend tydelik oop wees, glo vir die ANC-leierskorps se blits­besoek.

Scott het egter gesê die sentrale lyn is en bly toe. “ ’n Vergadering Vrydag tussen Prasa, die Stad Kaapstad en die Wes-Kaapse regering beklemtoon al ons pogings is nou daarop gefokus om die lyn in dié week oop te kry.

“Ons wag nou op ’n verslag van die tegniese span oor die bruikbaarheid van die lyn en dan moet die Spoorveiligheidsreguleerder die lyn veilig verklaar.”

Beskadig

Die sentrale lyn is verlede maand opgeskort toe ’n gewapende veiligheidsbeampte op die Chris Hani-treinstasie doodgeskiet is.

’n Week nadat die lyn gesluit is, sou dit weer oop wees, maar Metrorail het toe gesê die treine kan nie loop nie omdat twee substasies beskadig is.

Verlede maand het die ANC en Cosatu in die provinsie hul kommer uitgespreek oor die lyn wat toe is en die onsekerheid wat heers. “Ons is bekommerd dat pendelaars ly omdat daar geen diens is nie,” het Tony Ehrenreich van Cosatu gesê.

Cameron Dugmore, ANC-LPW, meen die krisis ontneem duisende leerders toegang tot opvoeding.

“Dié krisis raak reeds pendelaars, wat veilig en betyds by die werk probeer kom. Ons moet die situasie as ’n nasionale krisis beskou.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters