Verlede maand
Afskeid van drie baie swaar

MET diepe hartseer op hul gesig het die ouers van Cayleb (7), Gradwill (4) en Joshua Smit (1) die drie engeltjies Saterdag gegroet.

Carl Smith jr. en Juanita Booysen het styf aan die wit kissies vasgeklou.

Booysen se smart kon op haar gesig gesien word terwyl sy vir ondersteuning aan Carl jr. se skouer gehang het.

Dit was asof sy haar seer wou wegsteek, maar haar emosies haar oorweldig het.

’n Begrafnisdiens vir die drie boeties is by die familie Smit se huis in Wellington gehou.

Die boeties het Saterdag ’n week gelede verongeluk toe hulle saam met hul oumagrootjie Sarie de Villiers in die Bainskloofpas gery het.

De Villiers, die enigste een wat die ongeluk oorleef het, sterk steeds in die Paarl-hospitaal aan en kon nie die begrafnis bywoon nie.

Saterdag in die diens het past. Vernon Jacobs haar beskryf as die antie wat haar altyd oor al die kinders in die gemeenskap ontferm.

GEBROKE: Juanita Booysen kry ondersteuning van Carl Smit jr. terwyl hulle moet afskeid neem van hul drie kindertjies, Cayleb, Gradwill en Joshua Smit. Foto: Peter Abrahams

Volgens Jacobs het De Villiers vir sakke groceries, klere en selfs die skoolgeld van sommige van die kinders in die gemeenskap betaal.

Hy het vertel: “Vandag is dit nie net vir my enige familie se begrafnis wat ek doen nie.

“Dis ’n familie wat baie na aan my is.

“Hiér het ons gekuier.

“Dis ’n baie besonderse familie hierdie... hul kinders, kleinkinders en agterkleinkinders.

“Ek en tannie Sarie het altyd saam werk gedoen.

“Sy het tientalle kinders in Smartie Town van kos voorsien.

“Sy was onbaatsugtig as dit by kinders kom. Sy het vir hulle skoolgeld betaal en hul skooluniforms gekoop.

“Ek kan getuig van die weldade wat sy gedoen het.

“Hier sit vandag nog kinders wat al groot is wie se skoolgeld sy betaal het.”

Jacobs het aan die familie gesê hy weet hulle het baie vrae en wonder hoekom hul kinders so vroeg moes sterf.

Hy sê hy weet hulle voel hul kinders moes nog gelag en gespeel het.

LAASTE WOORDE: Past. Vernon Jacobs bemoedig die familie van Cayleb, Gradwill en Joshua Smit voordat hul lykies veras word. Foto: Peter Abrahams

Jacobs sê bemoedigend: “Julle wonder seker daaroor dat julle kinders skaars in die lewe gebring is en so vinnig weer uit is.

“Aanvaar God se tyd. Maak vrede met God se tyd.

Gekruip

“Ons kan nie by God se tyd inmeng nie.”

Die boeties se oupa, Carl Smit sr., het hulle ook met ’n hartroerende boodskap gegroet.

Carl sr. sê sy enigste drie kleinkinders het diep in sy in hart gekruip en hy sal hulle nooit vergeet nie.

“Cayleb, Gradwill en Joshua, julle was drie pragtige kindertjies... Vlieg hoog, my kinders.

“Julle sit nou by Pappa en Sus.

“Daai kindertjies was nooit ontevrede met wat hulle gekry het nie.

“Cayleb het die mooiste maniere gehad, Gradwill was ’n bietjie rof en Joshua was die slimste baba wat ek al ooit gesien het.

“Ek is trots om te sê ek was hul oupa.

“Ek weet nie hoe dit is om ’n kind te verloor nie, maar ek weet die Here sal genees met tyd.

“Cayleb, Gradwill en Josh­ua, ek is lief vir julle.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters