13 dae gelede
ACDP kap nuwe beleid in skole
Ferlon Chris­tians Foto: CURT LOTTRING  ~ 

DIE African Christian Democratic Party (ACDP) sê ’n voorgestelde onderwysbeleid sal leerders meer aan seksuele geweld blootstel.

Ferlon Chris­tians, die Wes-Kaapse ACDP-leier, meen dié beleid, wat ten doel het om skoolkinders in die LGBTQI+-gemeenskap gemak­liker te laat voel, stel die res van die leerders aan groter gevaar bloot.

Volgens Christians is die doel van die beleid om “geslagsidentiteit” en “gender expression” te promote.

Christians sê ingevolge die voorgestelde beleid kan ’n leerder wat LGBTQI+ is, kies om enige toilet by die skool of koshuis te gebruik waar hy of sy die gemaklikste voel.

Dis hier waar hy egter teen die karre skop.

Christians sê: “Daar is reeds hoë syfers van seksuele mishandeling van leerders.

“Seksuele geweld teen vroue en kinders is ook hoog. Hierdie gedeelte van die beleid sal ons kinders en vroue kwesbaarder maak.

“Die riglyne gee hoofde onder meer die reg om gender confused leerders sonder die ouers se toestemming na kundiges en organisasies te verwys om gender-ideologie aan te moedig.

“Leerders kan ook kies watter uniform hulle skool toe wil dra om aan hul gevoelens uiting te gee; meisies kan seunsklere dra en andersom.

“Boonop sal meisies en seuns toegelaat word om te kies aan watter sportaktiwiteite hulle wil deelneem.”

’n Meisie kan selfs kies om ’n seunsnaam te gebruik.

“Die ACDP gaan die voorgestelde beleid teenstaan en sal die publiek in kennis stel wanneer openbare sittings hieroor gehou word,” sê Christians.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters