Verlede maand
Abrahams was ‘simbool van hoop’
LAASTE EER: Talle het hul final goodbyes kom sê – onder andere Jerome “Donkie” Booysen.  ~ Salmon Smith

HY IS ’n simbool van hoop – hoop vir die gemeenskappe wat so besoedel is met die euwel van bendes en dwelms hier op die Kaapse Vlakte.

Só het ’n spreker eendag in ’n kerkdiens na Mervyn Abrahams verwys.

Abrahams was destyds, in die 1990’s, die leier van een van die grootste bendes op die Kaapse Vlakte en was aan die voortou van die groot bende-oorlog in die Elsies­rivier-omgewing.

Hy het baie jong laities vir die bendes gewerf.

Maar in die laat ’90’s het hy sy hart vir die Here gegee en ’n motiveringspreker geword.

Hy het ’n boek oor sy lewe geskryf en daardeur vergifnis gepreek vir die onreg teenoor die gemeenskap. Ook wou hy die jong mense met sy lewensverhaal inspireer.

Son het nog in Mei 2016 daaroor berig. Daar is ook ’n documentary oor die boek gemaak.

Laas week het Mervyn sy stryd teen kanker verloor. Hy is uit ’n kerk in Gaylee, Blackheath, begrawe. Begrafnisgangers het van oral in die Kaap gekom om hul laaste eer te toon.

Onder hulle was ook Jerome “Donkie” Booysen.

Geloop

Voor die aanvang van die diens het Mervyn se weduwee, Carmen Abrahams, ’n kers vir hom aangesteek.

Evangelis Jerome Witbooi, wat ook destyds “die pad van die goddelose” saam met Abrahams geloop en ook later tot bekering gekom het, het die begrafnisdiens waargeneem.

Hy het uit Romeine 6 vers 23 gelees: “Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.”

“Mervyn was destyds ’n goeie verleier, maar voor sy dood was hy ’n leier van die regverdiges,” het Witbooi voortgegaan. “Toe niemand vir ek en Mervyn kans gesien het nie, toe het die Here vir ons kans gesien.”

Hy het ’n ernstige beroep op mense gedoen om hulle te bekeer en ook direk tot die jongspan gespreek: “Die uitbetaling van bendes is of die dood of die tronk!”

Ter afsluiting het ’n spreker laat hoor: “Ons stort nie vandag ’n traan oor hartseer of bedroefdheid nie, maar oor blydskap oor die positiewe impak wat Mervyn in ons gemeenskappe gemaak het. Iemand sal sy mantel moet optel!”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters